Nerené wys veggees ná ernstige motorongeluk

Bo: Nerené saam met haar ouers Irene (links) en Neil (regs) net na haar aankoms terug in Oudtshoorn. Foto’s verskaf

Die gemeenskap van Oudtshoorn het die afgelope paar weke saam gebid, gehoop en ondersteun nadat Nerené Saayman op 3 April 2026 in ’n ernstige motorongeluk beseer is. Hoewel haar pad na herstel nog lank is, toon haar vordering sedert die ongeluk merkwaardige tekens van hoop en deursettingsvermoë.

Ná die ongeluk is Nerené aanvanklik by Oudtshoorn Hospitaal behandel voordat sy na George Hospitaal oorgeplaas is vir verdere mediese sorg. Daar het sy ’n operasie ondergaan waartydens dokters die wond aan haar linkerbeen skoongemaak het.

Op 10 April is sy per ambulans na Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas waar spesialiste haar behandeling voortgesit het.

Dokters het op 11 April haar heup weer in posisie geplaas. Twee dae later, op 13 April, is haar traksie weer gestel en het sy reeds begin om haar voete en tone te beweeg – ’n belangrike mylpaal in haar herstelproses.

’n Groot operasie op haar bekken en regterbeen is op 22 April uitgevoer. Die prosedure het sowat twee ure geduur en volgens terugvoer het die operasie goed verloop. Op dieselfde dag is die traksie aan haar linkerbeen ook verwyder. Op 24 April is sy vir die eerste keer met hulp uit die bed gehelp en in ’n stoel gesit.

Teen 25 April het sy reeds begin om haar bene te beweeg, oefeninge te doen en fisioterapie te ontvang.
Nog ’n groot mylpaal is op 2 Mei bereik toe sy met die hulp van ’n loopraam kon opstaan.

Op 4 Mei is Nerené vanaf Groote Schuur Hospitaal terug na Oudtshoorn Hospitaal oorgeplaas waar haar rehabilitasie en herstel verder voortgaan.

Teen 5 Mei het sy reeds sowat sewe meter met die hulp van ’n loopraam gehop – nóg ’n groot teken van vordering in haar herstelpad.

Nerené het hierdie week ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskap wat haar en haar familie ondersteun.

“Ek is self opgewonde om nader aan die huis te wees. Ek het die Oudtshoorn-lug gemis en nou reën dit ook so lekker. Almal is so vriendelik en wil net help.”


“Ek het nie besef met hoeveel mense ek in aanraking kom nie en het net weer besef mens moet almal behandel met liefde en respek,” het sy gesê.

Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat boodskappe gestuur en haar ouers ondersteun het.
“Ek wil dankie sê vir almal wat net ’n boodskappie gestuur het en vir almal wat nie net my nie, maar ook my ma en pa ondersteun het deur die tyd sover. Daar is te veel mense en ek is bang ek mis iemand.”

Volgens Saayman is haar pynvlak reeds beter en sien sy daagliks verbetering. “My pyn is darem nie meer so erg nie en ek beweeg elke dag bietjie meer. Ek het my goeie dae en slegte dae maar probeer positief bly en dit help dat almal rondom my positief is.”

Sy het ook groot waardering uitgespreek teenoor die personeel by al drie hospitale waar sy behandel is.
“Al drie hospitale het baie mooi na my gekyk en die susters in Groote Schuur het al soos familie begin gevoel. Ek het regtig daar baie tuis gevoel al was ek ver van die huis af.”

Saayman het bygevoeg dat dit Woensdag twee weke sedert haar groot operasie is en dat haar steke en staples dieselfde dag verwyder is.

Skillie Pretorius, eienaar van Oudtshoorn Spar en Nerené se werkgewer, het aan Die Hoorn gesê dat haar pos as voedsel en drankbestuurder vir haar wag sodra sy reg is.

“Dit is iets wat buite almal se beheer was, en sy is ’n baie goeie werknemer en daarom hou ons haar pos vir haar oop tot sy gesond is,” sê hy.

Hoewel haar herstelproses nog lank gaan duur, is elke klein tree vorentoe ’n teken van hoop ná ’n traumatiese tyd vir almal betrokke, veral as die moontlikheid bestaan dat sy nog in die week huis toe kan gaan.

Haar ouers, Neil en Irene bedank ook graag almal wat hul bygestaan het, bemoedig het en ondersteun het tydens hierdie moeilike tyd.

“Dit het ons daagliks gedra en hoop gegee om vorentoe te kyk,” vertel hulle. Haar pa skerts dat mense haar nie binne die volgende maand by die Parkrun moet verwag nie. (ANGELIQUE ERASMUS)

Nerené kan al beweeg met die hulp van ’n loopraam.