My kankerverhaal – die dag waarop my lewe radikaal moes verander

Japie Coetzee Foto: Hoorn argief

MEIMAAND 2002, op die ouderdom van 56 jaar, het my lewe onherroeplik verander, en het my verhaal deel ge­word van kankerstatistiek, die Groot K.

Dit is die mense wat deur baie beskou word as diegene vir wie die son besig is om onder te gaan. Dit sou ook die dag wees waarop my lewe radikaal moes verander en waar ek by die aanhoor van die nuus moes besluit dat dit ’n Goddelike geleentheid eerder as ’n verleentheid was.

Ek het een oggend in Mei 2002 opgestaan met ’n seer voet waarop ek beswaarlik kon trap, en wat my genoodsaak het om dokter toe te gaan. Sy diagnose was soos ek verwag het, te veel suur in die bloed, maar hy het verkies om bloed te trek ten einde die suurinhoud te bepaal.

Nadat ek reeds die spreekkamer verlaat het, het hy my teruggeroep en meegedeel dat hy ook ’n PSA-lesing gaan aanvra. Wat beteken dit, wat word bedoel met PSA wou ek van hom weet. Hy het my meegedeel dat dié lesing ’n idee sou gee of alles met my prostaat in orde is. Hy het verduidelik waar die prostaat is en dat dit ’n klier so groot soos ’n okkerneut is.

Toe die uitslag kom, was die suurinhoud niks om oor bekommerd te wees nie, maar wel die PSA-lesing van 16,6 wat normaalweg nie hoër as 4 behoort te wees nie. Onmiddellik is ’n afspraak met ’n uroloog gemaak en was sy bevinding dat daar wel ’n harde mo-dulêre en hipodigte area in die prostaat voorkom. Andersins was die prostaat die normale grootte en daar geen probleem met my urienweg nie. ’n Biopsie sou bepaal of dit kwaadaardig was.

Op 22 Mei 2002 word die biopsie uitgevoer en op 27 Mei 2002 kom die uitslag wat my bewegingloos en, hoewel winter, met sweetdruppels op my voorkop laat.

Terwyl ek in die spreekkamer op die dokter en die uitslag van die biopsie wag, het daar baie dinge deur my gedagtes gegaan. Ek het myself probeer oortuig het dat dit nie kanker sou wees nie. Toe die dokter my inroep en saam met hom ’n tweede persoon – ’n berader, toe weet ek: Dis slegte nuus; dis kanker.

Ek kan niks onthou wat hy verder gesê het nie.

My wêreldjie het klein geword. Soos ’n kosbare vaas wat op ’n kleivloer val, het die hele struktuur van my bestaan in stukke gebreek en in skerwe gespat.

Ek het antwoorde gesoek op die vrae: Waarom ek? Wat van my drome? Sal ek dan nie eens ’n kleinkind kon vashou of saam met hulle ’n bal rondskop nie?

Toe ek uit die spreekkamer stap met soveel verwarring en ’n traan in my oog, stap ek in die liefdevolle en simpatieke omhelsing van my vrou, Jane, in. Toe weet ek, ek gaan nie die stryd alleen voer nie. Daar is mense wat omgee; daar is mense wat ’n verskil gaan maak – my vrou, my kinders, die kerk en gemeenskap.

Sommer so, sonder dat die vrae klaar gestel kon word, het die antwoorde gekom: Waarom nie jy nie? Dit is nog nie die einde van jou lewe nie! Daar is hoop! Daar is nog baie wat jy moet vermag en beteken vir jou vrou, kinders, skoondogters, kleinkinders, familie en gemeenskap.

Nie net dié antwoorde het vir my baie beteken nie, maar ook die ondersteuning en gebede.

In die skrywe van die uroloog aan my dokter beveel hy aan dat ek vanweë my ouderdom radikale prostatektomie moet oorweeg. ’n Suksesvolle operasie van drie ure te Panorama in Kaapstad volg met drie maande se verblyf by Leon in Pniel om aan te sterk en naby die hospitaal te wees in die geval van komplikasies.

Terug op Oudtshoorn was dit nog nie die einde nie, want ek moes daarna vir sewe weke daagliks na George gaan vir bestraling. In daardie stadium het ek dit reeds aanvaar en vrede gemaak. My uitkyk en ingesteldheid op die lewe was nou meer positief as die jare toe ek nie kanker gehad het nie.

Hierdie daaglikse reise na George vir bestraling, het ek omskep in kwaliteittyd. Dit was skielik nie vir my ’n las nie, maar eerder iets waarna ek daagliks uitgesien het. Elke oggend het ek met ’n lied in my hart wakker geskrik en die pad aangedurf George toe. Alhoewel my vrou en kinders baie graag elke dag wou saamry, het ek verkies om somtyds alleen te ry. Daardeur wou ek die punt maak dat dit nodig is om in myself te glo en belangrike besluite moes neem oor lewensaanpassings wat ek moes maak. Maar meer nog om die ervaring dat ek nooit alleen sal wees nie, te geniet. Ek kon dan hardop met die Meester en Skepper praat en in stilte weer Sy stem hoor.

Baie oggende wanneer ek alleen gery het, het ek op die berg gestop en opnuut tot die besef gekom hoe groot die skepping is en dat ek, terwyl ek nog lewe, deel daarvan is en dat Hy nog ’n doel met my lewe het. Ek sou dan diep in die dale afkyk en my eie omstandighede vergelyk met die diepte, met die klowe, met die donker dal-ervaring van my lewe.

Onwillekeurig sou ek daarna opkyk na die pragtige blou lug en tot die besef kom dat Hy my nog tot sulke hoogtes wil laat styg.

Vandag, 20 jaar later, verteen- woordig ek almal wat steeds die stryd teen kanker voer, maar positief as oorwinnaars voortleef. Ek wil graag ’n inspirasie wees vir my kinders, kleinkinders en vir ander – ook vir hulle wat nie kanker het nie, maar ’n ander oorlewingstryd voer.

Ek weet nie wat môre inhou nie. Dit maak ook nie saak nie. Wat belangrik is, is dat – terwyl ek lewe – die gedagte van lewe belangriker is as die kanker. Uitgedaag om waar ek my bevind, ’n bydrae en ’n verskil te maak.

A psychiatrist once said that people are like stained glass windows.

“They sparkle and shine when the sun is out, but when darkness sets in, their true beauty is revealed only if there is light from within.”

To live without limits and especially to survive the darkness of being a cancer survivor, you must switch on that light within and celebrate life.

Let us believe in our own beauty and value as someone who can make a difference.

May the Lord help us to die with our boots still on and our hands dirty.