Pak jou vere en proe die Karoo

Die “Feathers & Wine”-tema nooi besoekers om hul mees uitspattige uitrustings aan te trek, met pryse wat vir die beste geklede deelnemers op die spel is. Foto verskaf

Calitzdorp trek dia naweek sy feesklere aan wanneer die Calitzdorp Expressed van 12 tot 14 Junie aangebied word, met ‘n program propvol wyn, kos, kuns en musiek.

Met vanjaar se tema, “Feathers & Wine”, word feesgangers aangemoedig om hul mees kreatiewe uitrustings uit die kas te haal en hulself uit te leef, met besonderse pryse vir die beste geklede deelnemers.

Die fees, wat uit die bekende port- en wyntradisie van Calitzdorp ontwikkel het, neem besoekers op ‘n ontdekkingsreis deur die dorp en omliggende wynplase. Hoewel ‘n beperkte aantal feespaspoorte beskikbaar is vir toegang tot spesiale voor-dele en ervarings, is dit nie ‘n vereiste om een te hê om die feesatmosfeer en talle aktiwiteite in en om die dorp te geniet nie.

Besoekers kan onder meer uitsien na bekroonde wyn- en olyfolieproeë, historiese staproetes, plaaslike markte, kunsuitstallings, pieknieks, ‘n kerkbasaar, lewendige musiek en selfs ‘n nuwe brouery wat deel van die feeservaring vorm.

By TTT Cellars wag ‘n hoogtepunt op wynliefhebbers met die bekendstelling van die 2026 Chenin Blanc: Passage of Time. Dié
wyn is volgens die koolstofmaserasie-metode vervaardig en slegs 320 bottels is geproduseer, wat feesgangers die geleentheid gee om van die eerste mense te wees wat dit proe.

Die NG Kerk Calitzdorp, wat reeds sedert 1873 deel van die gemeenskap vorm, hou op 13 Junie sy jaarlikse kermis waar besoekers kan uitsien na stalletjies, tradisionele kos en gesinsvermaak.

By De Krans Wines vind die gewilde Expressed Trail Run plaas, met roetes wat deur die wingerde en langs die Gamkarivier kronkel. Deelnemers kan kies tussen ‘n 5 km-pretstap of -hardloop, ‘n 9 km-roete of ‘n uitdagende 21 km-roete.

Nog ‘n hoogtepunt op die program is ‘n optrede deur Marisca Rain and The Thunder by The Station op Vrydag 12 Junie vanaf 17:00 en is Saterdag 13 Junie vanaf 19:00 by Die Bosvarkie te sien.

By Du’SwaRoo Wine and Olive Farm word vanjaar se nuwe witwyne, Rosé, Cape Pink, Red Muscadel en Hanepoot bekendgestel, terwyl die plaas ook sy nuwe rooiwynasyn tydens die fees aan die publiek voorstel.

Feespaspoorthouers kan hul fisiese paspoorte en geskenksakke by die Calitzdorp Toerismekantoor afhaal op Vrydag, 12 Junie, van 12:00 tot 18:00 en Saterdag, 13 Junie, van 07:00 tot 11:30.

Dié is egter slegs ‘n voorsmakie van wat op die program is. Organiseerders plaas gereeld nuwe aankondigings, aktiwiteite en besonderhede op die Calitzdorp Expressed Facebook-blad, en besoekers word aangemoedig om dit te volg om seker te maak hulle mis niks van die feesnaweek nie.

Lees ook:

Boplaas table wines reflect generations of winemaking tradition

Klein Karoo se natuurskoon en talent steel die kollig

Calitzdorp-katte op “catwalk” in Parys