Calitzdorp-katte op“catwalk” in Parys

Bo: Modelle vertoon Dior se “ready-to-wear” klerereeks, tewyl beelde van Hylton Nel (onder), ’n inwoner van Calitzdorp, se keramiekkatte lewensgroot in die voorgrond staan. Nel en Kim Jones, Dior se artistieke direkteur en ontwerper se vriendskap strek al oor baie jare. Jones het na ’n besoek aan Nel besluit om sy keramiek-katte vir die “catwalk” te gebruik. Foto’s: Facebook

Soms gaan sommige groot gebeurtenisse ongesiens of stil-stil verby. Lank voordat Lady Gaga in Parys tydens die openingseremonie van die Olimpiese spele in Oudtshoorn se volstruisvere gepronk het, het ’n Klein Karoo-kunstenaar se werke opspraak in Parys gewek.

Calitzdorp is op die Wêreldverhoog geplaas toe Hylton Nel (80), bekende kunstenaar van hierdie pragtige Karoodorp, se keramiek-kunswerke in die bekende modehuis Dior, se lente/somer reeks vir 2025 in Parys op die loopplank gepronk het. Kim Jones, die artistieke direkteur en ontwerper van Dior, is ’n jarelange vriend van Nel.

Na ’n besoek aan hom in Calitzdorp het Jones besluit om Nel se beelde deel te maak van Dior se modeparade in Parys.

Nel se keramiekkatte is in reusebeelde omskep en in Dior se modeparade vir hulle “ready-to-wear”- klerereeks gebruik.

Die vergrote katbeelde het oor die modelle op die loopplank getroon.

Nel is in 1941 in Zambië gebore, maar het grootgeword op ’n plaas net buite Calitzdorp, waar hy tot vandag toe woon en sy pragtige en wêreldbekende kunswerke skep. (LINDI BRILL)