Tydens ’n spesiale raadsvergadering van Dinsdag 22 Oktober het die voorstel dat ’n persoon van buite, Ian Avontuur, as waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste aangestel word, hewige reaksie van die opposisie ontlok. Die voorstel deur ANC-raadslid Tiemie het gevolg gedurende die raad se bespreking van die bedanking van Noël van Stade as direkteur van gemeenskapsdienste.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, het die raad ingelig dat Van Stade bedank het en sy pos volgens voorgeskrewe regulasies geadverteer moet word. ’n Waarnemende persoon moet deur die raad aangewys word terwyl die werwings- en aanstellingsproses plaasvind.
Tiemie se voorstel is met hewige teenkanting van die DA, ICOSA en SAAMSTAAN begroet. Die hoofsweep, Zoe Tyatya (ANC) het vir ’n vyf minute koukus gevra. Na die koukus het Tiemie sy voorstel onttrek en dit verander. Volgens die nuwe voorstel sal die voorgenome aanstelling van Avontuur aan die provinsiale minister van plaaslike regering, Anton Bredell, voorgelê word vir goedkeuring.
Rdl. Vlancio Donson (ICOSA) het gesê dat dit die belastingbetalers geld uit die sak gaan jaag om ’n waarnemende persoon van buite aan te stel terwyl die pos intern tydelik gevul kan word. Rdh. Chris Macpherson (DA) het gesê dat hulle hulle kommer en die redes daarvoor ook aan Bredell gaan stuur om die tydelike aanstelling van Avontuur teen te staan.
Intussen het die raad ’n senior amptenaar as waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste aangewys. Die Hoorn het ’n navraag aan die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, gestuur waarin gevra word waarom ’n persoon van buite weer soos in die geval van die munisipale bestuurder in ’n waarnemende pos aangestel word.
Daar word ook gevra waarom die minister nou genader word vir toestemming van hierdie aanstelling, maar dat dit nie met die aanstelling van die waarnemende munisipale bestuurder gedoen is nie. ’n Reaksie was teen spertyd nie ontvang nie.
Besoldiging van raadslede: Tydens die raadsitting is die salarisaanpassings van raadslede, die sogenaamde “upper limits”, soos vervat in die Staatskoerant 51407 van 17 Oktober 2024 sonder teenkanting van enige party goedgekeur. Die uitbetalings is terugwerkend tot Julie 2023, maar uitbetaling geskied eers na goedkeuring van die minister van plaaslike regering.
Die aangepaste salarisskale wat van toepassing is vir 2024/2025 sal op ’n later stadium ook voor die raad dien. Die aanpassings word volgens ’n formule gedoen nadat Oudtshoorn na die afgelope sensus kwalifiseer om van ’n Gr3 munisipaliteit na Gr4 opgegradeer te word. (HANNES VISSER)
Raadsvergadering warm oor waarnemende aanstelling
Die speaker, Suzane Jansen (PA), en die waarnemende munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, tydens Dinsdag se raadsvergadering. Foto: Hannes Visser