Die Freda Barnard swemgala wat die naweek plaasgevind het, was die eerste gala wat die splinternuwe toerusting by die NA Smit swembad kon benut.
Die goeie nuus vir Oudtshoorn is dat dié swembad nou danksy nuwe toerusting wat deur die munisipaliteit aangekoop is, nasionale galas en -tweekampkampioenskappe kan aanbied.
Daar is egter nog een hekkie wat voorlê: die versekering van goeie waterkwaliteit. Die wegspringblokke wat voorheen gebruik was, was heeltemal onvoldoende en geen nasionale byeenkomste kon aangebied word omdat die swembad nie oor elektroniese toerusting vir tydhoudoeleindes beskik het nie.
Daar is in die 2024-2025 munisipale begroting voorsiening gemaak vir die aankoop van dié noodsaaklike toerusting. Buiten die wegspringblokke en elektroniese toerusting is nuwe baanmerkers ook aangekoop.
Volgens Lluwellyn Coetzee, president van Wes-Kaap Swem, is hulle sowel as Eden-swem uiters dankbaar vir hierdie kritieke opgradering van die swembad.
“Hierdie toerusting beteken dat Oudtshoorn nou enige gala, ingesluit Swem SA vlak 1,2,3 galas, kan aanbied.” Coetzee spreek die hoop uit dat die volgende stap die vervanging van die swembad se pompstelsel sal wees wat reeds ongeveer 50 jaar oud is. “Die kwaliteit van water is ook belangrik en is ons seker dat die munisipaliteit deurlopend daaraan sal werk. Die afgelope Freda Barnard gala was slegs positief ontvang deur die deelnemers en besoekers en sal ons graag op hierdie ondervinding wil bou en die moontlike aanbied van ’n Swem SA gala te ondersoek.”
Dave van der Walt, stigterslid van OSI (Oudtshoorn Sport Inisiatief) en jarelange bekende in Tweekamp-kringe het gesê dat die toerusting ’n welkome stap in die regte rigting is, maar dat waterkwaliteit verseker moet word.
Hy het ook genoem dat OSI deurlopend betrokke is om te verseker dat die NA Smit swembad aan alle standaarde voldoen vir nasionale byeenkomste. OSI het verlede jaar met hulp van privaat onderne-mings die ablusiegeriewe by die swembad opgeknap. (HANNES VISSER)
Swembadtoerusting baan weg vir nasionale geleenthede
