Die Klein Karoo kan met reg trots wees nadat plaaslike boer Coetzee Laubscher, as een van die groot wenners by vanjaar se Mampoerfees by die Voortrekkermonument in Pretoria weggestap het.
Loubscher, ’n vierde-generasie boer in die Oudtshoorn-omgewing, het drie gesogte trofeë verower, naamlik Beste Witblits Sonder Dop (sonder die druiwe doppe), Algehele Witblitskampioen en Beste Brandewyn Ouer as Drie Jaar.
“Dit is ’n groot eer en voorreg om dubbelgoud te wen. Ek het glad nie verwag om as algehele wenner aangewys te word nie,” het Laubscher aan Die Hoorn gesê.
Vir hom is witblits nie ’n besigheid nie, maar ’n familietradisie wat oor geslagte heen voortleef.
“My oupa en pa het die witblitsstooktradisie as ’n stokperdjie voortgesit en ek doen dieselfde. Dit is nie iets wat ons verkoop of geld uit maak nie.”
Volgens Laubscher begin goeie witblits by goeie grondstowwe. “’n Goeie witblits is die resultaat van ’n goeie produk. Hanepoot is natuurlik baie gewild, maar ek gaan nie al my geheime weggee nie,” vertel hy en verduidelik dat die stookproses ook baie geduld verg. “Dit is moeilik om ’n presiese tyd daaraan te koppel. Die proses neem tyd en daar is baie faktore wat die eindproduk beïnvloed.”
Vanjaar se kampioenskap is deur vier beoordelaars beoordeel wat onafhanklik van mekaar tot dieselfde gevolgtrekking gekom het.
“Hulle het saamgestem dat die produk dubbelgoud verdien en dat dit ’n witblits van uitstaande gehalte is.”
Tydens die 3de jaarlikse Mampoerfees was daar sowat 260 inskrywings in 34 verskillende klasse wat deur ongeveer 140 gildelede ingedien is. Die kompetisie sluit nie net mampoer in nie, maar ook witblits, brandewyn, whiskey, rum en jenewer.
Laubscher beskryf die atmosfeer by die Voortrekkermonument as besonders. “Dit was ongelooflik lekker. Die hele Afrikaanse kultuur is daar uitgebeeld. Daar was uitstallings van witblits, mampoer en verskeie ander dranksoorte wat mense kon proe en koop.”
Volgens hom speel sulke geleenthede ’n belangrike rol in die bewaring van Suid-Afrika se kultuurerfenis.
“Hierdie feeste help om tradisies lewendig te hou. Dit gee mense die geleentheid om kennis oor te dra en jonger geslagte betrokke te kry.”
Hy moedig veral jongmense aan om by die stokersgilde aan te sluit wat belangstel om hierdie stokperdjie op te neem.
Vir diegene wat wonder oor die verskil tussen witblits en mampoer, verduidelik Laubscher dit eenvoudig:
“Witblits word van druiwe gestook, terwyl mampoer van ander vrugte soos perskes, pruime, appelkose of ander vrugtesoorte gemaak word.”
Hy is ook trots dat die algehele witblitstrofee vanjaar sy tuiste in die Klein Karoo gevind het. “Dit is ’n goeie gevoel dat die kampioentrofee nou hier in die Klein Karoo is.”
Laubscher het sy familie op die plaas bedank vir hul ondersteuning, asook die bestuur van die Mam- poerkultuurstokersgilde vir hul harde werk om die kultuur en tradisie van tuisdrankstook aan die lewe te hou. (ANGELIQUE ERASMUS)
