’n Unieke samewerking tussen die bekroonde Ca-litzdorpse Boplaas en Springbok-rugbyspeler André Esterhuizen het gelei tot die bekendstelling van ’n beperkte uitgawe rum waarvan slegs 500 bottels beskikbaar is.
Die 10 jaar-verouderde rum is onlangs tydens ’n funksie by Boplaas se proelokaal in Hartenbos bekendgestel. Die bekendstelling het in ’n streek plaasgevind waarvoor Esterhuizen ’n besondere liefde het en waar hy gereeld vakansie hou.
Volgens Boplaas het die projek ontstaan uit ’n gedeelde passie vir gehalte en vakmanskap. Die Nel-familie is bekende rugbyondersteuners met verskeie bande in die nasionale rugbygemeenskap, terwyl meesterdistilleerder Daniel Nel gereeld beperkte uitgawes ontwikkel om die invloed van unieke houtveroudering ten toon te stel. Esterhuizen, wat Suid-Afrika en die Sharks verteen- woordig, beskryf homself ook as ’n rum-entoesias.
Esterhuizen sê hy het gedurende sy rugbyloopbaan van die wêreld se beste rums geproe, maar dat Boplaas vir hom uitstaan vanweë die familiegeskiedenis en die fokus op gehalte.
“Om ’n nuwe premium rum by die Boplaas-portefeulje te voeg, is altyd ’n trotse mylpaal vir ons, maar om dit in vennootskap met ’n nasionale ikoon soos André Esterhuizen te doen, het hierdie projek werklik besonders gemaak,” sê Daniel Nel.
“André deel ons passie vir vakmanskap en geduld. Saam het ons ’n noukeurige reis aangepak totdat ons die perfekte uitdrukking gevind het. Die eindproduk weerspieël die sterk karakter waarvoor André op die rugbyveld bekend is, gekombineer met die verfynde kompleksiteit wat Boplaas se produkte kenmerk.”
Die Boplaas 1880 André Esterhuizen Rum bied aromas en geure van songedroogde perskes, vanielje en gebraaide neute. Die rum het aanvanklik vyf jaar in bourbonvate verouder voordat dit vir nog vyf jaar in Boplaas se eie tawnyport-vate gerus het. Volgens
Boplaas dra die Klein Karoo se warm klimaat, lae humiditeit en groot temperatuurwisselings verder by tot ’n meer gekonsentreerde geurprofiel, wat die indruk van ’n veel ouer rum skep.
Nog ’n kenmerk van die rum is dat dit teen vatsterkte gebottel is. Waar baie rums met water verdun word om ’n alkoholinhoud van sowat 43% te bereik, is dié enkelvat-rum direk uit die vat gebottel teen 60% alkohol. Dit beteken die natuurlike geurprofiel bly onaangeraak.
Die bekendstelling voeg nog ’n produk by Boplaas se versameling bekroonde spiritualieë. Boplaas het laasjaar die prys ontvang vir beste brandewyn in Suid-Afrika en beste whisky in Suid-Afrika by verskillende internasionale kompetisies.
Die rum kan skoon geniet word, met ’n titseltjie water of oor ys, en is selfs geskik vir skemerkelkies en mengeldrankies. Die Boplaas André Esterhuizen Rum is beskikbaar by Boplaas se proelokale in Calitzdorp en Hartenbos, asook aanlyn by www.boplaas.co.za.
Van drieë tot drankies: Boplaas se nuwe eksklusiewe rum
Rugby en rum het onlangs in Hartenbos ontmoet toe die Springbok André Esterhuizen en Boplaas hul nuwe beperkte uitgawe rum bekendgestel het. Van links is Vincent Koch, Carel Nel, Daniel Nel en André Esterhuizen. Foto verskaf