Pa en seun in hof op klagte van poging tot moord

DIE saak teen ’n pa en sy seun van Oudtshoorn, wat van poging tot moord aangekla word, is in die streekhof vir uitspraak tot later die maand uitgestel.

Piet Sederstroom (50) en Marcelino Goliath (29) word daarvan aangekla dat hulle op 28 Augustus 2021 vir Henry Coetzee in sy opslaanhuis met ’n panga en byl aangeval het.

Johanna Seroux het getuig dat sy die beskuldigdes gesien het toe hulle met die wapens na Coetzee toe gestap het.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het aangevoer dat Seroux ’n fout maak omdat sy kliënte nie op die toneel was nie.

Hy het die hof gevra om hul vry te spreek.

Volgens die beskuldigdes was sy (Seroux) die betrokke dag erg onder die invloed van alkohol.

Norman Morris het getuig dat hy die klaer goed ken en dat hy ’n “groot bendeleier” is. Volgens hom gaan alles oor die smous van dwelms en dat Coetzee jaloers was op die twee beskuldigdes.

“Ek is nie hier om die beskuldigdes te beskerm nie, maar net om die waarheid te praat,” het Morris gesê. Hy het erken dat die beskuldigdes ook met dwelms smous.

“Die klaer wil ontslae raak van hulle sodat hy meer winste kan maak,” het Morris onder kruisverhoor beweer.

’n Tweede getuie vir die verdediging, Wayne Seroux, het getuig dat Coetzee nie deur die beskuldigdes aangerand is nie.

Hy het ontken dat die beskuldigdes hom geld aangebied het om in hul guns te getuig.
Hoewel Coetzee sy vriend is, het hy getuig dat hy “nie onskuldige mense kan laat tronk toe gaan nie.”

Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, verskil Seroux se getuienis hemelsbreed van sy verklaring aan die polisie.

Die getuie het al sagter begin praat en nadat hy gaan sit het, het hy aan die hof erken dat hy vroeër die dag dwelms gebruik het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het dit as skandelik beskryf en die getuie gewaarsku dat hy ’n volgende keer opgesluit sal word totdat die saak afgehandel is.

Die staat vra die hof om die beskuldigdes op albei klagtes skuldig te bevind. (Deur Garnett Wicomb)