
’n Houtkoets wat Jaco Nel bykans tien jaar gelede vir sy kleinniggie gemaak het, is hierdie week by die eksklusiewe Kumbali Kasteel in Lilongwe in Malawi, aan gaste bekendgedstel.
Nel was verlede jaar in Die Hoorn nadat hy ’n Nampo-wenner was vir sy innoverende uitvindsel, Easi-Chop, wat gebruik word om hout veilig te kap. Hy vertel dat hy die koets, wat deur ’n perd getrek kan word, maar eintlik as ’n bed gebruik word, tien jaar gelede vervaardig het. Die hele koets is met die hand gemaak en het ongeveer ses maande geneem om te voltooi.
Dit sou aanvanklik na Dubai gaan, maar daar is toe besluit om dit as bed vir sy kleinniggie, Kayleen, te gee. Sy is nege jaar gelede op 14-jaar oorlede en haar ma, Hentha Swanepoel, sê daar is toe besluit om die koets as deel van die Swanepoels se erfenis te behou.
Hentha sê die eienaar van Kumbali Kasteel het aan haar genoem dat hy nog net ’n koets by die ingang kort. “Ek het toe vir hom gesê ons het ’n koets, maar hy kan dit net op bruikleen kry, want dit is die familie s’n,” het sy vertel.
Die koets is Malawi toe gestuur en is hierdie week onthul. Kumbali bied luukse akkommodasie in ’n wildreservaat. Bekendes soos Madonna, gaan gereeld daar tuis. Jaco en sy gesin het in 2023 van Mosselbaai na Oudtshoorn verhuis.
Hy is uiters veelsydig en is nie net bouer, skrynwerker en innoveerder nie, maar ook ’n musikant. (HANNES VISSER)