Die bekende persoonlikheid in die vermaaklikheids- en televisiebedryf, Andrew Wilson, het Vrydagaand sy debuutroman, The Fourth Boy, by die Tuinateljee in Calitzdorp bekendgestel.
Sy uitgewer, Karina Szczurek-Brink, die weduwee van André P Brink, het die gesprek met Wilson gelei. Sy het gesê haar uitgewery, Karavan Press, het met die intrapslag geweet dat The Fouth Boy ’n uitsonderlike boek is.
Die boek speel in Calitzdorp af en oor twee tyd-perke wat vervleg is; Die tydperk tydens die tweede Wêreldoorlog toe 500 Poolse weeskinders na Oudtshoorn gestuur is en die 1980’s toe die land in oproer was.
Wilson, wat vir jarelank onder andere ’n teksskrywer van die sepie, Isidingo, was het tydens die gesprek gesê die saadjie vir die boek is geplant tydens sy besoeke aan die CP Nel-museum waar die geskiedenis van die Joodse invloed in die dorp en die koms van die weeskinders weergegee word.
“Ek wou ’n manier vind om hulle (die wees-kinders se) storie sowel as ander stories oor liefde, verraad en verlies te vertel,” het hy aan Die Hoorn gesê. Sy navorsing en die skryfproses het hand-aanhand gegaan en het reeds tydens die Covid-periode begin. Wilson het 12 jaar gelede op 50 die vermaaklikheids- en televisiebedryf verlaat en vanaf Johannesburg na Calitzdorp verhuis waar hy tans aan sy tweede roman werk.
Die onderdak-area by die Tuinateljee in Calitzdorp was Vrydagaand volgepak met gaste wat na afloop van die bekendstelling flink boeke gekoop het. Onder die gaste was die bekende aktrise en televisie-persoonlikheid Ashley Hayden wat ’n vriendin van Wilson is.
Volgens hom het sy elke hoofstuk van die boek gelees en kommentaar gelewer voordat hy die finale weergawe voorgelê het.
Wilson se skryftalent en fyn sin vir humor is duidelik uit die gedeeltes wat hy voorgelees het.
Hy en Szczurek sal later vanjaar ook deel wees van die Prince Albert Leesfees wat van 29 tot 31 Augustus in die Showroom-teater aangebied word. (HANNES VISSER)
Poolse wesies inspireer skrywer van roman
