
Die familielede van Josh Pharaoh (9) wat in 2017 na ’n voorval by ’n weermagvertoning by die KKNK gesterf het, het Maandag berusting en afsluiting gevind. Landdros Vaughn Shone het Maandag, 24 Februarie, sy uitspraak gelewer na afhandeling van die geregtelike nadoodse ondersoek rondom die oorsaak van Josh se dood. Shone het bevind dat die onderoffisier van die SANW wat die betrokke dag ’n Rooikat-demonstrasie gelewer het, nalatig was.
Josh het in 2017 onder toesig van sy oom en tannie die weermag-uitstalling by die KKNK bygewoon en was deel van ’n groep mense wat die Rooikat-militêre voertuig besigtig het. Die onderoffisier aan diens het die beweging van die voertuig se kanonloop gedemonstreer en Josh, wat intussen in die ruim van die voertuig was, se kop is deur bewegende dele vasgeklem. Hy is twee dae later in Mosselbaai in die hospitaal oorlede.
Shone het in sy uitspraak gesê die onderoffisier se getuienis het nie ooreengestem met die bewyse nie en dat hy daarvan bewus moes gewees het dat Josh in die ruim van die voertuig was toe hy die demonstrasie gedoen het.
Die weermag het aanvanklik verklaar dat Josh op die voertuig geklouter het en deur die luik geval het en sy kop teen ’n skerp plaat gestamp het. Die nadoodse ondersoek het egter bevind dat die oorsaak van sy dood nie ’n val was nie, maar as gevolg van drukking op sy skedel.
Shone het in sy uitspraak gesê dat twee selfoonvideos wat deur ’n familielid tydens die besigti-ging geneem is, deurslaggewend was om te bewys dat die onderoffisier se getuienis nie korrek was nie en dat Josh met sy medewete in die voertuig se ruim was.
Shone het bevind dat die onderoffisier nalatig was. In sy uitspraak stel hy dit ook duidelik dat daar geen blaam aan die twee familielede toegskryf kan word in wie se sorg Josh die dag was nie. Hy het gesê dat enige spekulasie van nalatigheid aan hulle kant heeltemal misplaas en onjuis is.
Volgens Lisa Cremer, distriksbeheeraanklaer, word die uitspraak saam met al die dokumente en haar aanbeveling nou aan die direkteur van openbare vervolging gestuur. Sy het gesê sy gaan aanbeveel dat die onderoffisier van stafbare manslag aangekla word.
Josh se oupa, Hamilton Pharaoh, wat sedert die tragiese voorval die familie se woordvoerder is, het Maandag gesê hulle kan nou die afgelope agt jaar se trauma afsluit. “Dit was nooit ons intensie om iemand te laat boet vir Josh se dood nie. Ons wou net dat die waarheid uitkom en dat mense moet weet Josh was nie ’n stout seuntjie wat sonder toestemming op die voertuig geklim het en geval het nie.”
“Dit was ’n lang pad, maar ek wil uit my hart uit dankie sê vir die integriteit en toewyding waarmee die hof hierdie ondersoek gedoen het. Josh sou vanjaar in matriek gewees het, maar as familie het ons berusting gevind.” (HANNES VISSER)