Oudtshoorn verkeersaak vir die vasstelling van ’n verhoordatum uitgestel

DIE saak teen elf verdagtes, ses verbonde aan die Oudtshoorn verkeersdepartement en vyf van twee ryskole wat teregstaan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet, is Donderdag (4 Mei) in die Oudtshoorn Streekhof tot 13 Junie uitgestel om ’n vehoordatum vas te stel.

Die staatsaanklaer, adv Deolin Williams, het die hof reeds verlede jaar meegedeel dat die staat moontlik 200 getuies sal roep om in die saak te getuig.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers; adv Benito Metembo, adv Zukile Nkulu en Bulelani Bans, het beswaar aangeteken teen die vertraging van die verhoor om te begin.

Metembo het dit aan die hof gestel dat die beskuldigdes reeds as kriminele en oneerlike mense aangesien word. Dit is dus in belang van geregtigheid dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word, het hy toe gesê.

Volgens die staatsaanklaer is die saak voorlopig tot 13 Junie uitgestel om ’n verhoordatum te reël.

Die borgtog van R5 000 aan Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba (42), Sandile Johnson (44), Warren Coetzee (45), Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen (45), Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39) is tot die volgende hofdatum verleng. Ivan Human (60) en Ingrid Wagenaar is om mediese redes op waarskuwing uit.

Die saak hou verband met beweerde onwettige uitreiking van leerlinglisensies en rybewyse. (Deur Garnett Wicomb)