Lee-Markwin Hess, sewe jaar oud van Ladismith, sou Saterdag (6 Mei) opgewonde uitsien na ’n familie-uitstappie na Uniondale waar hulle ’n rugbywedstryd van die plaaslike span sou ondersteun. Dinge het egter met die terugkeer na Ladismith ’n tragiese wending ingeneem met klein Lee-Markwin wat verongeluk het.
Johnfred Hess, bestuurder van die motor, het Saterdag met sy vier passasiers – waarvan Lee-Markwin een was – na Uniondale vertrek. Volgens die familie was dit ’n heel aangename dag en het hulle na die rugby die te-rugreis na Ladismith hervat.
Volgens Celeste Hess, ook ’n passasier, maar wie nie verwant aan Johnfred is nie, het die motor net buite Calitzdorp aan die Oudtshoorn-kant begin swenk, gruis gevang en het Johnfred beheer oor die voertuig verloor en die pad verlaat.
“Die kar het omgeslaan en Lee-Markwin het uitgeval,” vertel ’n aangedane Raydene, moeder van die jonge Lee-Markwin.
“Lee-Markwin het onder die kar gelê,” volgens die bedroefde ma.
Lee-Markwin se ouma, Wilhel-mina van Rooi, het met die koerant se besoek aan die familie op die bed van hul informele huis gelê en huil. Dit was duidelik dat sy hierdie verlies moeilik gaan verwerk.
Mariska Braaff, klasopvoeder van Lee-Markwin het hom as ’n goed-opgevoede en lojale leerder beskryf.
Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die voorval bevestig en genoem dat Lee-Markwin op die toneel deur paramedici dood verklaar is.
Die begrafnis van Lee-Markwinword oor twee weke, vir Saterdag 20 Mei beplan en sal vanuit die Maranatha Kerk te Ladismith plaasvind. (Deur Deon Meyer)
Familie in rou na hartseer afsterwe van 7-jarige in ongeluk
Lee-Markwin Hess (7) het in die ongeluk gesterf. Foto verskaf