Landdros tydens gedenkdiens gehuldig

Die ontslape landdros, Graehymme Jesus Williams. Foto: www.judgesmatter.co.za

’n Mensemens, streng, pynlik netjies, gedissiplineerd en iemand wat nie ongeregtigheid verdra het nie.
So is die ontslape landdros, Graehymme Jesus Williams, wat op 25 April in sy huis op George oorlede is, verlede Donderdag in huldeblyke tydens ’n gedenkdiens in die hof waar hy sake aangehoor het beskryf.

Williams het op 1 Oktober 2021 as landdros op Oudtshoorn begin werk en later weens sy siekte ophou werk.

Hooflanddros Ryan van Harte het in sy huldeblyk aan Williams gesê dat hy bestem was om eendag as regter van die hooggeregshof aangestel te word nadat hy reeds genooi was vir ’n onderhoud.

“Ons was baie bevoorreg om Graehymme, ’n man met ’n magdom kennis, as ’n kollega te kon hê. Hy het nie ongeregtigheid geduld nie en hy het van almal verwag om hul werk met waardigheid te doen. Hy het vir almal omgegee. Vir die slagoffers van geweld maar ook vir die oortreders. Hy het beslis ’n merk gemaak wat ons almal behoort te volg,” het Van Harte afgesluit.

’n Hofordonnans, Mariska Grootboom, het in haar huldeblyk gesê dat sy Williams sal onthou as iemand wat almal met respek behandel het.

“Behalwe vir die feit dat mnr Williams ’n streng, presiese, respek-volle en gedissiplineerde persoon was, was hy ’n baie goedhartige mens en altyd bereid om te help en ’n ekstra myl te stap met enigiemand wat hulp nodig gehad het Ons as hof-ordonnanse was almal bang vir hom en het ongetwyfeld baie by hom geleer. Ons kan net voortbou op die kennis en advies wat ons van hom gekry het en op sy nalatenskap voortbou.”

Volgens haar was hy ’n unieke persoon wat volgens die ritme van sy eie drom gemarsjeer het.

Sy het namens die SAPD medelye aan Williams se vrou en familie oorgedra met die boodskap om nie vir jou teenwoordigheid opgemerk te moet word nie maar vir jou afwesigheid gemis moet word.

Cindy Murray-Smith van die regshulpraad het Williams bekryf as ’n man wat ’n passie vir sy gemeenskap gehad het en ’n voorstander was dat regslui uitreik na die gemeenskap.

Sy het almal aangemoedig om sy boek Judicial Manual te lees.

Volgens Juanita Barron, die hof se kantoorbestuurder, sal sy Williams onthou vir die besondere wyse waarop hy in die hof opgetree het en iemand wat, indien hy enige pyn verduur het, nooit gekla het nie.

Royden Boonzaaier en Lisa Cremer het onderskeidelik namens die Departement van Justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag medelye aan Williams se eggenote en familie oorgedra.

Hy laat sy vrou, Charlene, ’n 10-jarige dogter, een broer en ’n suster agter. (Deur Garnett Wicomb)