Oudtshoorn-skole blink uit by WKOD-toekennings!

Foto van links: Gerrit Rudolph, hoof van die Hoërskool ­Oudts­hoorn en Sovita Wagner, leerkrag vir Engels by die skool, met die skool se toekenning. Foto verskaf Regs: Stephanus Potgieter, hoof van Langenho­ven Gimnasium na die oorhandiging van die skool se toekenning by Leeuwenhof. Foto verskaf / Onder van links: Thembeka Mabongo, hoof van Fezekile Sekondêr. Foto: Hoorn-argief en Brandon Claassen, hoof van Hoërskool Môrester. Foto: Lindi Brill

VIER skole van Oudtshoorn het Donderdag (2 Februarie) die dorp se naam hoog gehou en laat weergalm deur die Eden en Sentraal Karoo-distrik toe hulle prestasietoekennings by die Wes-Kaap onderwysdepartement se 2022 nasionale senior eindeksamen-toekennings ontvang het.

Die toekennings is by Leeuwenhof, die Wes-Kaapse premier se wo-ning in Kaapstad, aangebied en het skole vereer wat uitnemende matriekresultate aan die einde van 2022 ontvang het.

Fezekile Sekondêre Skool, Hoërskool Môrester, Langenhoven Gimnasium en die Hoërskool Oudtshoorn het toekennings in verskeie kategorieë by die glansgeleentheid ontvang. Die skole se hoofde, onderskeidelik Thembeka Mabongo (Fe­zekile), Bran­don Claassen (Mô­rester), Stephanus Potgieter (Langenhoven Gimnasium) en Gerrit Ru­dolph (Hoërskool Oudtshoorn) het dit in ontvangs geneem.

Fezekile is vereer omdat die skool ’n verbetering tussen 2020 tot 2022 getoon het ten opsigte van leerders wat met ’n Baccalaureus-slaagsyfer ge­slaag het.

Môrester het toekennings ontvang vir die grootste verbetering in die slaagsyfer vir die periode 2020 tot 2022 vir openbare skole, en ook die grootste verbetering in die slaagsyfer vir die periode 2020 tot 2022 vir tegniese skole.

Die Gimmies is vereer vir hul uitnemende akademiese prestasie deur die eerste plek in die Wes-Kaap in die nasionale senior eindeksamen in 2022 te verower vir ’n skool wat ook tegniese vakke aanbied.

Die Struisies het ook heelwat om oor trots te wees.

Hulle het die provinsiale toekenning vir beste vordering en uitnemendheid in Engels Huistaal ont­- vang, tweede plek in die Eden en Sentraal Karoo-distrik vir Engels Huistaal en ook eerste plek in die distrik vir Engels Eerste Addisionele Taal.

Die Struisies se Dylan Dreyer het ook ’n toekenning ontvang vir sy 100%-slaagsyfer in Besigheidstudies. (Deur Stefan Skapie Goosen)