Oudtshoorn groet Jan van Wyk – filosoof, digter, onderwyser, familieman

Jan van Wyk

DIE nuus van die dood van ’n bekende inwoner van Oudtshoorn, Johannes Lodewyk van Wyk, was ’n groot skok vir die gemeenskap van Oudts­hoorn. Blyke van medelye het van oraloor ingestroom na Van Wyk se familie – woorde van troos, be­moediging en staaltjies uit onderwyskringe.

Jan van Wyk was ’n digter, skrywer en storie­verteller. Hy was in sy lewe ’n onderwyser en ’n uitmuntende taalman, wat in sy loopbaan bekend was vir die aanbieding van taalwerkswinkels saam met prof Hans du Plessis oor die prosa, digkuns en joernalistiek.

Hierdie kranige akademikus het sy onderwysloopbaan in Namakwaland begin, waar hy goeie vriendskapsbande gesmee het. Sy liefde vir die Namakwalandse taalvariant het hy graag gedeel.

Tydens die KKNK het hy Uit ouma se Karoo- dagboek, die ritme van die riel, aan gehore bekend gestel. Hy het vir dié produksie ’n dansgroep van-uit Fraserburg, Oudtshoorn toe gebring.

Hy kon spog met ’n eerste, toe die riel nog in sy kinderskoene was. Vandag word dié kultuur-historiese dans plaaslik én wêreldwyd hoog aangeslaan.

Jan was ’n beskeie persoon. Hy was geen grootprater nie, maar ’n harde werker. Hy was ook ’n karatika met durf en mannemoed soos min.

Sy liefde vir Namakwaland en die Karoo word weerspieël in sy digwerk, skryfwerk en die stories wat hy so graag vertel het. Hy het selfs ’n toer gelei met hoërskoolleerders Namakwaland toe.
Jan debuteer in Die Fonteyn saam met Hans Oosthuizen, André Boezak en Poem Mooney. Dié bundel is uitgegee by ’n KKNK, en afgerond en uitgegee deur die skrywers.

Hy het ook dikwels bydraes oor taal vir Die Burger gelewer. Sy jongste boek, Die Gesprek, is ’n diep filosofiese stuk werk.

Tydens sy siekte het hy graag die plekke besoek wat ’n indruk op hom gemaak het. Hy was baie lief vir Meiringspoort, waar hy en sy familie en sy ouers dikwels gekuier het.

“Ons sal hom altyd onthou vir die wyshede wat hy openbaar het tydens familiesaamtrekke,” sê sy een broer, dr Clifford van Wyk. “Hy was ’n trotse familiemens en jy kon dit sien in hoe hy familiereünies beplan het. Ons sal jou mis, Jan van Wyk, soos Jolina sou gesê het: filosoof, digter, pro­saskrywer, joernalis, pa, oupa en mede-pelgrims­reisiger.”

• Die begrafnisdiens vind Saterdag plaas, om 10:00 by die huis en 11:00 by die VGK-kerk.