DIE akteur Marlo Minnaar en die skrywer Ricardo Arendse, wat albei op Oudtshoorn grootgeword het, het Vrydag (3 Februarie) die goeie nuus ontvang dat hulle albei genomineer is vir Fiësta-toekennings!
kykNET se Fiësta-toekennings vereer sedert 2011 uitmuntende werk by kunstefeeste, met ’n paneel beoordelaars wat feeste regoor die land bywoon om die gesogte lys van benoemdes saam te stel.
Die Fiëstas word op 9 Maart oorhandig.
Minnaar is genomineer in die kategorie vir die beste spel in ’n hoofrol vir sy vertolking in Die halwe huis wat verlede jaar by die KKNK te sien was. Arendse, skrywer van die teks vir Die halwe huis, is genomineer in die kategorie vir die beste nuutsgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling.
Die halwe huis is ook in ’n derde kategorie genomineer as beste feesproduksie van 2022.
“Die stil jaar ná die pandemie het allermins kunstenaars se kreatiwiteit gekortwiek,” sê die sameroeper van die Fiëstas-paneel, Herman van der Westhuizen. “Soveel kunstefeeste en kunstenaars het met gehalte-aanbiedings die kollig betree. Die Fiësta-toekennings is ’n staande ovasie vir die uitsonderlike werk wat in 2022 op die feeskringloop aangebied is. Die Fiëstas-paneel het ’n fenomenale feesjaar beleef en sê byvoorbaat geluk aan ieder en elk wat met hulle skeppings die uitvoerende kunste laat gedy het.”
KKNK kry meer as helfte van Fiësta-nominasies
Teater- en musiekproduksies wat in 2022 op Oudtshoorn by die KKNK te sien was, sorg vir meer as die helfte van die Fiësta-nominasies:
• Ek, Anna van Wyk uit die pen van Pieter Fourie en onder die regie van Marthinus Basson (vyf nominasies).
• Die halwe huis (drie nominasies).
• Die dansteaterstuk Karatara (drie nominasies).
• Die oerkluts kwyt met Antoinette Kellermann en Ancient Voices – Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies (drie nominasies).
• Nataniël se Prima Donna (twee nominasies).
• Om skoon te wees, een van die stukke wat tydens die KKNK se nuwe Lucky Pakkie-teateraanbod te sien was (twee nominasies).
• Karin Preller se visuele kunsuitstalling by die KKNK in 2022, Beyond Memory (nominasie vir beste prestasie in visuele kuns.
Klein Karoo Klassique kry drie nominasies!
Drie musiekuitvoerings by 2022 se Klein Karoo Klassique is vir Fiëstas genomineer: Handel at Home en The Gqeberha Trio is beide vir beste prestasie in klassieke musiek benoem en Lynelle Kenned vir beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie vir Handel at Home.
Dié genomineerdes kom vanjaar KKNK toe!
Feesgangers by vanjaar se KKNK sal die geleentheid kry om die volgende produksies wat vir Fiëstas genomineer is, hier op Oudtshoorn te kan sien: Die moeder met Sandra Prinsloo en Dawid Minnaar, Afval wat vir sy teks benoem is, die musiekproduksies Femme is fatale met Elzabé Zietsman en die musiekproduksie Tony Bentel, asook die dansproduksie Karatara.
• Kry die feesprogram vir vanjaar se KKNK by kknk.co.za.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of Pick n Pay.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337. (Deur Liesel le Roux)
3 Fiësta-nominasies vir Marlo, Ricardo en Die halwe huis!
Marlo Minnaar (links) en Ricardo Arendse wat albei op Oudtshoorn grootgeword het, gesels verlede jaar tydens die KKNK met Die Hoorn oor die produksie Die halwe huis. Die eenmanstuk wat deur Arendse geskryf is met Minaar in die hoofrol, is nou vir drie Fiësta-toekennings genomineer! Foto: Liesel le Roux