Munisipaliteit antwoord oor middedorp

DIE kantoor van die burgemeester van die Groter Oudtshoorn het soos volg geantwoord op die voorbladberig verlede week in Die Hoorn oor die huidige situasie in die middedorp:
Die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, en die uitvoerende bur-gemeester, Chris Macpherson, het Maandagoggend ’n gesprek met le­de van die Oudtshoorn Besigheids­kamer sowel as Oudtshoorn Toe­risme gevoer rakende die kwessie van die middedorp.

Die burgemeester het gesê die huidige kwessie in die middedorp is kommerwekkend en moet dringend aangespreek word, maar dat dit in samewerking met besigheidseie­naars gedoen moet word.

Daar word beoog om ’n vergade­ring met sakelui en eienaars van geboue in veral Hoogstraat te belê om ’n strategie te bespreek vir moontlike oplossings.

Die burgemeester het daarop gewys dat wetstoepassers voortaan op ’n gereelde basis in die middedorp ontplooi sal word, maar ook daarop gewys dat hulle mense nie bloot net kan verwyder nie.

Die polisie reageer op voorvalle van misdaad, maar daar moet ’n oplossing gevind word vir leeglêers, bedelaars en selfaangestelde motorwagte, het hy gesê.

Daar vind aan die einde van die maand twee werksessies ten opsigte van veiligheid plaas waarby die munisipaliteit betrokke is. Verskeie rolspelers is reeds genooi. Die publiek se samewerking word gevra deur nie geld aan bedelaars en toevallige motorwagte te gee nie.

“Ons weet dat daar ’n klein groe­pie motorwagte is wat reeds etlike jare op spesifieke plekke diens doen en aan inwoners bekend is,” sê die burgemeester.

“Ons verwag nie dat hulle hul inkomste moet verbeur nie, maar ongelukkig is daar op ’n daaglikse basis mense wat hulleself as motorwagte voordoen en motoriste nie net lastig val nie, maar selfs dreig.

“Daar word tans na maniere gekyk om parkering in die dorp op ’n volhoubare manier te reguleer. Intussen vra ons sakelui in die middedorp om deel te neem aan samesprekings sodra ’n datum bepaal word.”

Betreffende die voorkoming van misdaad het die burgemeester gesê die kamerastelsel wat reeds op verskeie plekke aangebring is, moet nog verder uitgebrei en ontwikkel word om reaksietyd te bespoedig.