‘Night at the Museum’ vir Engelse toeris

’n Toeris van Londen, Jo Newstead, waar sy agter die CP Nel Museum se tralies staan. Foto verskaf

“O GONNA, ja, dit was gedeeltelik my eie skuld en ek wil nie hê enige iemand moet in die moeilikheid kom daarvoor nie!”

So sê Jo Newstead van Londen in die Verenigde Koninkryk nadat sy byna haar eie weergawe van die gewilde Ben Stiller-fliek, Night at the Museum, beleef het en vir byna ’n uur en ’n half alleen in Oudtshoorn se CP Nel Museum toegesluit was.

In ’n gesprek met Die Hoorn Maan­dagaand, kort nadat sy “vrygelaat” is, kon Newstead lekker lag oor die insident en was sy glad nie om­gekrap daaroor nie. “In ’n stadium het ek dit eintlik geniet om alleen in die museum te wees!” skerts sy.

Newstead vertel dat sy omstreeks 16:30 na die museum toe gegaan het, en dat selfs die “lovely lady” by die deur, ’n personeellid van die museum, vir haar gesê het dat sy net 30 minute oor het voordat die museum sluit. “Maar ek het net te betrokke geraak in alles in die museum. Ek was oral, by elke kamer in, van een kant na die ander kant, maar toe ek weer kyk was dit 17:15!” sê sy.

Sy het heeltemal verlore geraak in die uitstallings.

Sy het haar na die voordeur gehaas en op ’n geslote deur afgekom.

“Ek het geroep en geroep, maar daar was geen antwoord nie. Op ’n manier het ek by die binnehof van die museum ingekom nadat ek deure van binne af probeer oopmaak het. Ek het selfs ’n paar nommers op die deure probeer bel, maar kon geen antwoord kry nie.”

Newstead het in daardie stadium ook geen data gehad nie.

Sy het uiteindelik ’n vriend in Klerksdorp gebel, wat toe met die Queen’s Hotel (Bon Hotels) waar Newstead oorgebly het, in kontak gekom het, ’n nommer wat sy self nie gehad het nie. “Gelukkig was daar mense van die Oudtshoorn Munisipaliteit by ’n funk­sie daar en kon hulle help om my uit te kry. Dit was so ’n groot verligting!” sê sy en giggel steeds skaam.

Newstead vertel sy is uiteindelik uitgelaat, en het selfs kans gekry om ’n interessante foto te neem.

Sy sê terwyl sy nog binne was, het sy haar verkyk aan die uitstallings, maar het in ’n stadium ook probeer om die alarm te laat afgaan! “Maar dit het ook nie gewerk nie,” vertel sy laggend.

Sy was nooit bang nie, sê sy, maar wel baie verlig dat sy nie die res van die aand in die museum moes deurbring nie.

“Selfs my vriende het vir my gelag, en gesê dis my eie skuld!”

En gelukkig, anders as in die Ben Stiller-fliek, het geeneen van die uitstallings lewe gekry nie!

Die Hoorn het die bestuur van die museum per e-pos gevra om kommentaar oor dié insident te lewer, maar teen druktyd nog geen te­rugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)