DIE saak teen die Oudtshoorn raadslid wat van seksuele aanranding aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof vir ’n moontlike pleitoorenkoms met die staat tot later die maand uitgestel.
Die 40-jarige beskuldigde wat sedert September verlede jaar in aanhouding is nadat sy aansoek om borgtog onsuksesvol was, word daarvan aangekla dat hy sy persoonlike sekretaresse in sy kantoor betas het.
Hy het glo die kantoordeur gesluit en haar ’n beter pos aangebied.
Hy het nog nie gepleit nie maar met sy borgtog-aansoek die hof meegedeel dat hy die dorp se tweede burger is en geregtig is op borgtog.
Die landdros wat die aansoek aangehoor het, Stephanie Strydom, het dit egter aan hom gestel dat almal in die hof gelyk is.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en die beskuldigde word voortaan deur Liezel Scholtz verteenwoordig. (Deur Garnett Wicomb)