DIE saak teen vier senior amptenare van die Kannaland munisipaliteit wat van bedrog aangekla word, is Maandag weer in die Oudtshoorn streekhof uitgestel, – dié keer vir een van die beskuldigdes om ’n nuwe regsverteenwoordiger aan te stel.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak tot 25 Mei uitgestel om die munisipale bestuurder, Morné Hoogbaardt, tyd te gee om ’n ander regsverteenwoordiger aan te stel.
Hoogbaardt word saam met McGrandile Makier, menslike hulpbronnebestuurder, Hendrik Barnard, direkteur: korporatiewe dienste en Nigel Delo, voormalige hoof van finansies, daarvan aangekla dat hulle oor ’n tydperk die Kannaland munisipaliteit glo uit meer as R338 miljoen bedrieg het. Hulle word aangekla van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Die staatsaanklaer, adv. Razia Valley-Omar, het die hof reeds met die vier se vorige verskyning meegedeel dat die staat gereed is om met die verhoor te begin.
Delo was met toestemming nie gister by die hof nie. (Deur Garnett Wicomb)