Oudtshoorn-raadslid eers later weer in hof

DIE saak teen die raadslid van Oudtshoorn wat van seksuele aanranding aangekla word en sedert sy inhegtenisneming in September verlede jaar in aanhouding is, is in die distrikshof tot later die maand uitgestel omdat die direkteur van openbare vervolging steeds wag op navrae wat aan die staat gerig is.

Die 40-jarige raadslid wat nog nie gepleit het nie, word daarvan aangekla dat hy ’n 37-jarige vroulike werknemer van die munisipaliteit in sy kantoor betas het nadat hy glo die deur gesluit en haar ’n beter pos aangebied het.

Hy is in aanhouding nadat borgtog deur landdros Stephanie Strydom geweier is.

Sy getuienis dat hy die tweede burger van die dorp is en dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word, is deur die landdros verwerp omdat “almal in die hof gelyk is”.

Die saak is op versoek van die staatsaanklaer, Danielle van der Westhuizen, deur landdros Ntombizandile Maseti vir verdere ondersoek en vasstelling van ’n streekhofdatum tot 21 Februarie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)