Oudtshoorn kry nuwe burgemeester voor 2026 munisipale verkiesing

Suzane Jansen (speaker) en Mziwoxolo Tyatya (nuwe uitvoerende burgemeester).

Voor ’n vol galery, waar die publiek in groot getalle opgedaag het, is Mziwoxolo Tyatya Dinsdag 7 April tydens ’n algemene raadsvergadering as die nuwe uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit verkies.

Tydens die vergadering is Chris Macpherson (DA) en Tyatya (ANC) genomineer vir die burgemeesterpos. Tyatya het die verkiesing gewen met 13 stemme en is formeel aangewys as uitvoerende burgemeester.

Omdat Tyatya nie sy rol as onderburgemeester kan beklee nie, moes ’n nuwe onderburgemeester tydens dieselfde vergadering verkies word. Barbara Owen (Icosa) en Veronica Michaels (Saamstaan) is genomineer, en Michaels is met 13 stemme teen 12 aangewys as die nuwe onderburgemeester, dieselfde stemtelling as by die burgemeesterverkiesing.

Hierdie verkiesing volg op ’n mosie van wantroue teen die vorige burgemeester, Johan Allers, wat op Woensdag 18 Februarie uit sy pos verwyder is nadat die mosie tydens ’n spesiale raadsvergadering geslaag het (soos berig in Die Hoorn van 27 Maart: Raad stem Allers uit).

Tydens die vergadering is ook twee nuwe raadslede ingesweer: Loretta Sharon Ryneveld (PA), verkies in Wyk 5 tydens die tussenverkiesing, en Ashwill Oktober (GOOD), wat Sonia Bentley as proporsionele raadslid vervang. Proporsionele raadslede verteenwoordig ’n politieke party op die munisipale raad.

Van krane tot strate
Oudtshoorn beweeg al hoe nader aan ’n belangrike munisipale ver-kiesing later vanjaar. Dit is die tyd wanneer inwoners beslis wie die dorp en munisipaliteit bestuur en hoe basiese dienste aan die gemeenskap voorsien word.

Munisipale verkiesings werk anders as nasionale verkiesings. By nasionale verkiesings stem mense vir partye wat die parlement vorm en die land regeer.

Plaaslike verkiesings gaan egter oor jou eie munisipaliteit, die regering wat die naaste aan jou daaglikse lewe is.

Die partye het intussen hul burgemeesterkandidate aangewys, en die fokus val op basiese dienste soos water en sanitasie, elektrisiteit, vullisverwydering, plaaslike paaie en infrastruktuur.

Wanneer ’n munisipaliteit sukkel, voel inwoners dit eerste. Finansiële wanbestuur, korrupsie en swak dienslewering is landswyd ’n werklikheid, en dit beteken dat gemeenskappe dikwels self moet uitvind hoe om basiese dienste te kry.

Die munisipale verkiesing is meer as net ’n verkiesing, aangesien die plaaslike regering die grootste onmiddellike invloed het op hoe die dorp funksioneer en die lewens-kwaliteit van inwoners.