Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het bevestig dat onlangse reënval ’n beduidende impak op die dorp se watergehalte gehad het, met verhoogde troebelheid wat inwoners nou dwing om water te kook voor gebruik, of water te koop.
Volgens die munisipaliteit het invloei na die Raubenheimerdam ná die storms die damvlakke laat styg, maar terselfdertyd die waterkwaliteit verswak. Die water se kleur en troebelheid het toegeneem, wat die doeltreffendheid van chlorering – tans die enigste behandelingsmetode – beïnvloed.
Die munisipaliteit beklemtoon egter dat geen E. coli of fekale kontaminasie in vorige toetse gevind is nie, dat die totale koliforme bakterië binne SANS 241-standaarde was en dat verdere watermonsters geneem is en resultate afgewag word.
Geen volledige waterbehandeling
Die munisipaliteit bevestig verder dat Oudtshoorn nie oor ’n volwaardige waterbehandelingsaanleg by die dam beskik nie, en dat chlorering reeds sedert 1972 gebruik word.
Die behoefte aan so ’n aanleg is reeds erken en ingesluit in beplanningsprosesse, maar:
• Die beraamde koste is sowat R120 miljoen.
• Die munisipaliteit het nie die finansiële kapasiteit om dit self te befonds nie.
• Pogings om eksterne befondsing te bekom was tot dusver onsuksesvol.
Huidige maatreëls en beperkings
Die munisipaliteit sê egter inwoners moet water voor gebruik kook en die kleur van die water sal egter steeds troebel voorkom nadat dit gekook is. Chlorering word wel geoptimaliseer binne huidige beperkings. Ongelukkig bied watertenks nie ’n beter alternatief nie aangesien dit uit dieselfde bron kom.
Die Blossoms-boorgate kan slegs as ’n aanvullende bron dien en nie die dorp se hoofvoorsiening vervang nie.
Hoewel die verkleuring nie op sigself ’n direkte gesondheidsrisiko is nie, kan troebelheid die veiligheid van die water beïnvloed.
Volgens die munisipaliteit se jongste inligting van Woensdag 8 April, is die water steeds baie troebel, maar dit het merkbaar verbeter. “Met ’n kleurlesing van 550 mg/L Pt na ongeveer 330 mg/L Pt, en ’n troebelheid van 99 NTU na 34 NTU is hierdie verbetering ook visueel waarneembaar. Normaalweg behoort die kleur onder 20 mg/L Pt te wees en die troebelheid minder as 1 NTU.”
Die munisipaliteit vertrou dat die situasie oor die volgende paar weke verder beduidend sal verbeter.
Chlorinering bly egter onder hierdie omstandighede minder effektief. Alhoewel daar in verlede week se toetse geen bakterieë aangetref is nie, bly die voorsorgmaatreël om drinkwater te kook steeds van toepassing.
Inwoners neem saak verder
Teen hierdie agtergrond het ’n groep inwoners, deur Garden Route First, reeds op 30 Maart 2026 ’n formele skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hulle groter deursigtigheid en dringende optrede eis.
In die brief word inwoners se grondwetlike reg op toegang tot veilige water beklemtoon, en daar word gevra vir:
• Volledige watergehalteresultate (insluitend E. coli en chloorvlakke)
• Duidelike planne om risiko’s te bestuur
• Verbeterde kommunikasie met die publiek
• Die stigting van ’n onafhanklike water- toesigkomitee
Garden Route First het later ook die munisipaliteit se reaksie erken, maar herhaal dat groter samewerking en deurlopende toesig nodig is om vertroue te herstel.
Formele beswaar en groter kommer
Die saak het verder geëskaleer toe inwoners ’n formele beswaar teen die 2026/27 GOP ingedien het.
Volgens Garden Route First wys data op:
• Slegs 0,4% onderhoudsbesteding teenoor die vereiste 8%
• ’n toenemende risiko van infrastruktuur-ineenstorting
• ’n onvervulde behoefte aan waterfiltrering
Die groep voer aan dat inwoners vir drinkbare water betaal, maar dikwels water ontvang wat eers behandel moet word.
Garden Route First waarsku oor “verborge ineenstorting”
Volgens ’n uitgebreide posisioneringsdokument van Garden Route First word die huidige waterkrisis nie as ’n geïsoleerde probleem beskou nie, maar as deel van ’n groter, sistemiese infrastruktuur en bestuurskrisis.
Die dokument wys op wat hulle beskryf as ’n “paradoks van oorvloed”, waar daar wel water beskikbaar is, maar nie noodwendig drinkbare water nie.
Volgens hul ontleding fokus die munisipaliteit al jare op waterkwantiteit (soos die Blossoms-projek en damuitbreiding), terwyl waterkwaliteit en filtrering agterweë gelaat word. Dit lei daartoe dat inwoners uiteindelik “rou water” ontvang wat self behandel moet word.
Wie is Garden Route First?
Garden Route First is ’n burgerlike organisasie wat fokus op goeie bestuur, deursigtigheid en aanspreeklikheid binne plaaslike owerhede. Die groep werk saam met inwoners oor kwessies van dienslewering en infrastruktuur in die Tuinroete- distrik, insluitend Oudtshoorn.
Die dokument beklemtoon verder dat:
• Die Raubenheimerdam geen sandfiltrasie-aanleg het nie
• Chlorering alleen nie voldoende is tydens hoë troebelheid na reën nie
• Selfs skoner boorgatwater uiteindelik met troebel damwater gemeng word in die stelsel
Garden Route First voer aan dat die huidige strategie, insluitend die moontlike uitbreiding van die dam, die probleem selfs kan vererger indien daar nie gelyktydig in waterfiltrering belê word nie.
As deel van hul voorstelle eis die groep dat ’n volwaardige waterbehandelingsaanleg prioriteit moet word en onderhoudsbesteding verhoog moet word tot nasionale standaarde. Hul vra ook dat ’n onafhanklike wateradvieskomitee ingestel moet word vir beter toesig.
Die groep het ook die munisipaliteit vanaf 7 April 2026, sewe dae gegee om te reageer. Indien nie, kan die saak eskaleer na provinsiale en nasio-nale vlak, met ’n moontlike grootskaalse petisie.
Alle briewe asook inligting oor die organisasie is beskikbaar op hul webtuiste.
Besoek gerus grfirst.org.za, of stuur ’n e-pos na admin@grfirst.org.za.


Inwoners se frustrasie kook oor:
Op sosiale media borrel die frustrasie intussen oor. Inwoners soos Hermien Brittnell en Barbara Beets beskryf hoe hulle noodgedwonge duur water moet aankoop, swembadwater gebruik om linne te was en hul gaste oor die watersituasie moet inlig.
John Dalton eis vergoeding en beskryf die situasie as onaanvaarbaar, terwyl Bran Michaels vra hoe minderbevoorregte huishoudings dit moet bekostig om water te kook. Granville Makwatie wys op die impak op kinders se gesondheid.
Die algemene gevoel is duidelik: die watersituasie is nie meer net ’n ongemak nie, maar ’n daaglikse krisis.
Met damme wat voller raak ná die reën, maar water wat vuiler word, sit Oudtshoorn met ’n skerp teenstrydigheid – daar ís nou water, maar die vraag bly: hoe veilig is dit regtig? (ANGELIQUE ERASMUS)