Twee moorde binne 48 uur

Bo van links: Rozanne “Sponsie” Botha en Rian Gelant (regs). Foto’s: Facebook

Twee afsonderlike moorde wat binne minder as 48 uur, op 3 en 4 April, plaasgevind het, het die Oudtshoorn gemeenskap in rou gedompel en met skok gelaat.

In die eerste voorval, op Vrydag 3 April omstreeks 17:15 in Ecstasy-straat, Rosebank is Rozanne “Sponsie” Botha (31) noodlottig met ’n skerp voorwerp gesteek.

Botha, wat volgens gemeenskapsbronne vyf maande swanger was, is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Volgens Sers. Chris Spies, media-skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, is daar by die polisie ’n moordsaak geopen en ’n man kort ná die voorval in hegtenis geneem. Die verdagte het Dinsdag 7 April in die hof verskyn, waarna die saak na gister, Donderdag 9 April, uitgestel is sodat die beskuldigde aansoek kon doen vir regshulp.

Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van ’n deurlopende ondersoek.

Die tragiese dood van Botha het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, met ondersteuning wat intussen aan haar familie gebied word. Sy laat ’n 9-jarige seun, ouers, broers en suster agter.
Tiener sterf ná steekvoorval in Rosevalley

Slegs ’n dag later, op Saterdagaand, 4 April om 23:15, is die 19-jarige Rian Gelant in Rosevalley Fase 2 noodlottig doodgesteek.

Sers. Spies het in ’n mediaverklaing geantwoord dat die voorval glo tydens ’n argument plaasgevind het. Gelant het ’n steekwond aan die bors opgedoen en is na ’n mediese fasiliteit geneem, waar hy met aankoms dood verklaar is.

“’n 35-jarige verdagte is later in hegtenis geneem en sou ook op 7 April in die hof verskyn op ’n aanklag van moord,” lui die verklaring verder. Die ondersoek duur voort.”

Die twee voorvalle, wat binne ure van mekaar plaasgevind het, het groot kommer onder inwoners laat ontstaan.

Gemeenskapsorganisasies het hul medelye met die families uitgespreek en doen ’n beroep op inwoners om saam te werk in die stryd teen misdaad.

Die gemeenskapsgroep Oudtshoorn Community Against Crime het gister, Donderdag 9 April, kransleggings vir beide slagoffers gehou. (ANGELIQUE ERASMUS)