’n Botsing het Vrydagmiddag 3 April 2026, omstreeks 17:30 op die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp plaasgevind, waarin twee voertuie betrokke was.
Volgens inligting het die ongeluk plaasgevind toe een voertuig voor ’n ander ingery het. Albei voertuie was wit Mercedes-Benz-motors.
Een van die beseerdes, Nerené Saayman (22), was op pad plaas toe vanaf haar werk toe die botsing plaasgevind het. Sy was ná die impak in haar voertuig vasgekeer.
Volgens haar pa, Neil Saayman, is hulle dankbaar vir die omstanders wat haar gehelp het deur die stuurwiel weg te buig en die deur oopforseer het omdat sy gesukkel het om asem te haal. Sy is met ernstige beserings hospitaal toe geneem.
“Nerené het ’n oop fraktuur aan haar regter onderbeen met ’n oop wond, asook ’n gebreekte linkerheup en bekken, wat beteken dat sy vir ’n tyd lank nie sal kan loop of sit nie,” het haar pa aan Die Hoorn gesê.
Dokters het die wond reeds Vrydag onder sedasie skoongemaak en haar been in gips geplaas. Sy is die volgende dag na George Hospitaal oorgeplaas. Nerené het nog dieselfde dag ’n operasie aan die regterbeen ondergaan.
Intussen is daar verskeie skanderings van haar bors, nek en linkerbeen gedoen, aangesien haar liggaam volgens een van die dokters ’n baie hoë impak moes absorbeer.
Die resultate sal gebruik word om, in samewerking met spesialiste by Groote Schuur-hospitaal, die beste moontlike behandelingsopsies te oorweeg.
Volgens Saayman het verskeie ooggetuies op die toneel hom meegedeel dat die ander bestuurder glo ’n stopteken verontagsaam het.
Daar word ook beweer dat die betrokke bestuurder moontlik onder die invloed van alkohol was en vroeër die dag roekeloos bestuur het. Hierdie bewerings is egter nog nie amptelik bevestig nie.
Op hierdie stadium is dit nog onduidelik wat die presiese oorsaak van die botsing was.
Die polisie se ondersoek is steeds aan die gang.
Inligting oor die ander bestuurder se toestand is nog nie beskikbaar nie.
Nog twee ongelukke het op dieselfde dag plaasgevind. Een naby Karooboom, en nog ’n ongeluk naby Ladismith. (ANGELIQUE ERASMUS)
Botsing op R62 laat vrou met ernstige beserings
