Die gemeenskap van Dysselsdorp is in rou en skok gedompel ná twee afsonderlike padongelukke verlede naweek, 28 Maart, waarin twee vroue hul lewens verloor het.
In die eerste voorval, wat Saterdagmiddag plaasgevind het, is twee voetgangers deur ’n bakkie getref. Die 67-jarige Christine “Tiena” Gelant is ernstig beseer en het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.
Die bestuurder van die bakkie is op die toneel in hegtenis geneem en aangekla van dronkbestuur sowel as na- latige en roekelose bestuur.
Ná Gelant se dood kan ’n aanklag van strafbare manslag nou ook bygevoeg word.
In ’n afsonderlike voorval dieselfde dag, is Julind “Ant Laai” Julies ook 67, noodlottig getref in ’n tref-en-trap ongeluk. Die bestuurder van die voertuig is later gearresteer en het reeds in die hof verskyn.
Die twee tragiese voorvalle, wat binne ure van mekaar plaasgevind het, het die gemeenskap diep geraak.
Organisasies soos OCAC het hul ondersteuning aan die families gebied, met ’n kranslegging wat Woensdag 8 April vir beide vroue plaasgevind het.
Gemeenskapslede het intussen ’n dringende beroep gedoen op motoriste om verantwoordelik op te tree, veral wanneer dit by die gebruik van alkohol en bestuur kom.
Die Hoorn het ’n navraag aan Sers. Chris Spies, media-skakelbe-ampte van die SAPD in die Suid-Kaap gestuur, maar teen druktyd nog nie terugvoer gekry nie. Die berig sal op die webtuiste opgedateer word, sodra dit ontvang is. (ANGELIQUE ERASMUS)
Dubbele Dysselsdorp tref en trap ongelukke skok
Van links: Christine "Tiena" Gelant en Julind “Ant Laai” Julies.