Oudtshoorn besigheidskamer vier 85 jaar

Bo: Die bestuurslede van Oudtshoorn Besigheidskamer is, voor van links: Amelia Lubbe, Zach Lipschitz, Donna-Lida van der Berg, Suné Rupping en Angelique Erasmus. Agter van links is: Hennie Davel, Jacobus Maloney, Abri Ferreira (Voorsitter), Hans van der Veen en Franklin Cupido. Afwesig: Harry Coetzee & Helene Badenhorst. Foto’s verskaf Onder: Oudts-hoorn Besigheids-kamer Netwerkaand – geborg deur Die Hoorn 26 Junie 2025.

Die wortels van die huidige Oudtshoorn Besigheidskamer, is reeds in 1940 geplant en sedertdien het dié organisasie van krag tot krag gegaan en het tans 156 besighede wat lede is. Talle bekende sakemanne van Oudtshoorn het oor die jare as voorsitters gedien met Abri Ferreira van Alert Patrol wat die huidige voorsitter is.

In November 2023 is Oudtshoorn Besigheidskamer as die naaswenner van die AHi se Sakekamer van die Jaar aangewys en in 2024 het dié besigheidskamer die gesogte AHi Sakekamer van die Jaar 2024-toekenning ontvang.

Die besigheidskamer se doel is om die plaaslike sakegemeenskap te bevorder en te ondersteun en dien as ’n verteenwoordigende liggaam wat werk om ’n gunstige ekonomiese omgewing te skep en groei vir sy lede te fasiliteer.

Die Kamer se sleutelfunksies sluit in voorspraak en verteenwoordiging aan plaaslike regering, die verskaffing van netwerkgeleenthede en die bevordering van ekonomiese ontwikkeling in die streek.

Die netwerkgeleenthede wat maandeliks aangebied word, bied uitstekende blootstelling aan besighede en is so gewild dat dit gereeld deur sakelui van omliggende dorpe ook bygewoon word.

Lidmaadskap aan die besigheidskamer bied nie net blootstelling en ondersteuningsgeleenthede nie, maar verleen ook verhoogde aansien en respek binne die gemeenskap. Lede het ’n stem in plaaslike sakekwessies en by die plaaslike regering.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer is deel van die netwerk van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) wat regoor Suid-Afrika aktief is.

Die Kamer is ook geaffilieer by die Vereniging van Suid-Afrikaanse Kamers (ASAC). Hierdie affiliasie stel die Oudtshoorn Besigheidskamer in staat om met ander groot kamers op nasionale en provinsiale vlak saam te werk.

Plaaslik is daar ook ’n noue samewerking tussen die besigheidskamer, toerisme en die landbousektor. Alhoewel die besigheidskamer se primêre fokus op ekonomiese en sake-aangeleenthede is, strek hulle rol egter tot sosiale en gemeenskaps-kwessies wat ’n gesonde plaaslike omgewing bevorder wat noodsaaklik is vir sake om te floreer.

Die Kamer ondersteun gereeld geleenthede en projekte wat gemeenskapsmoraal en plaaslike trots bevorder en werk ook met die munisipaliteit mee t.o.v ekonomiese ont-wikkeling en bestuur wat indirek bydra tot ’n meer stabiele omge-wing vir alle inwoners.

Vir meer inligting oor die Oudtshoorn Besigheidskamer, kontak Helen Butler per e-pos by business @odnchamber.co.za. (HANNES VISSER)