Meer as 80 pasiënte word behandel met PCA-uitreik

Die organisasie, Pedriatic Care Africa, wat deur Dr André Hatingh van De Rust gestig is, en reeds mediese sorg aan duisende minder behoeftiges voorsien het, het verlede naweek met die hulp van ’n dokter, verpleegspersoneel en vrywilligers 82 pasiënte in Klaarstroom gratis behandel en van gratis medikasie voorsien. Die terrein van die skool op Klaarstroom is vir die projek gebruik.

Een van die pasiënte wat behandel is, is deur ’n ambulans na die hospitaal op Prince Albert Vervoer vir dringende mediese sorg.

Personeellede van die kantoor van die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn het tydens die projek ook die skool se kombuis beman, middagetes voorsien en komberse en klere uitgedeel. Die Infanterieskool het koeldrank en vrugte verskaf wat aan die kinders uitgedeel is.

Dr Hattingh het vroeër vanjaar 500 km met ’n donkiekar afgelê om geld in te samel vir ’n spesiale stoel vir ’n kleuter van Blomnek by De Rust wat gestremd is. Hy beplan reeds aan sy volgende donkiekarrit vir 2026.

Dr Hattingh is ook eerskomende Sondag ’n deelnemer aan die Prince Albert Leesfees waar ’n ete by die Swartberg Hotel voorgesit word uit sy kookboek, Cooking with Doc. Dié kookboek word ten bate van Pedriatic Care Africa verkoop.

Pedratic Care Africa werk landwyd en bedank elke vrywilliger wat aan projekte deelneem asook diegene wat die organisasie finansiëel ondersteun om mediese sorg moontlik te maak vir mense wat dit andersins nie kon ontvang nie. (HANNES VISSER)