Man van Dysselsdorp vrygespreek op klagte van moord

’n Man van Dysselsdorp wat daarvan aangekla was dat hy ’n jong man buite ’n kuierplek op Dysselsdorp met ’n bierbottel doodgesteek het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof onskuldig bevind en ontslaan as gevolg van onvoldoende getuienis waarop hy skuldig bevind kon word.

Enrico Loggenberg is daarvan aangekla dat hy die aand van 27 Januarie 2024 vir Wilfred Oliphant buite die Day-la Dee nagklub met ’n gebreekte bierbottel gesteek en hy later op die toneel gesterf het.

Een van die staatsgetuies, Jason April, het getuig dat hy die betrokke aand die bakleiery gesien het. Dit was baie donker maar hy kon sien dat die oorledene ’n bierbottel in sy hand gehad het en dit later geval het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het as gevolg van teenstrydige getuienis van staatsgetuies, bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en Loggenberg die voordeel van die twyfel gegee. (GARNETT WICOMB)