Bedrogsaak teen Rabie-egpaar vir uitspraak uitgestel

Die jarelange bedrogsaak teen die Rabie-egpaar van Oudtshoorn wat teregstaan op 34 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, is verlede week in die streekhof na die slotargumente van die verdediging vir uitspraak tot 13 November uitgestel.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, vra die hof om die twee beskuldigdes, Marthinus en Johanna Rabie, sowel as die vrou se twee beslote koörporasies, Gwaiing en Attakwa op al die klagtes skuldig te bevind.

Volgens Goulding het Johanna die departement van landbou deurentyd onder die in-druk gebring dat sy nieverbonde is aan Gwaiing nie.

Volgens hom het haar man as ingenieur in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn proefplaas, sy magte misbruik om sy vrou se twee koöperasies, te bevoordeel en feitlik al die werk te kry waarvoor sy tussen 2006 en 2008 tenders by die departement ingedien het.

Hy het ook werkers aangery na projekte en fisies werk gedoen en as voorman opgetree.

Die egpaar se regsverteenwoordiger, Henry van Breda voer aan dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en die klagstaat gebrekkig is.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en die egpaar is op waarskuwing.

Die staat het reeds vroeër beslag gelê op eiendom van die egpaar indien hulle skuldig bevind sou word. (GARNETT WICOMB)