Drake, dwaalgeeste en warrelwinde

Deur Poem Mooney

Ek was aangenaam verras toe ek die tuinhekkie hoor toeklap. Ek het Ousie Roeslyn deur die stoepvenster sien aankom.

“Mapstieks, ousus,” het ek haar uitbundig gegroet. “Kom sit, Ousie,” het ek haar genooi en haar ’n stomende koppie koffie aangebied. Sommer met die sitslag het ek opgemerk iets is verkeerd met haar. “Wat skort, Ousie?” het ek gevra toe ek die bord met die brood voor haar neersit.

Ousie Roeslyn het ’n diep sluk gegee – ek kon sien hoe haar hande bewe toe sy die koffiebeker oplig. Sy het diep gesug, en toe praat sy.

“Gert,” het sy begin. “Ek het gisteraand ’n nare droom gehad en daarna het ek nie weer aan die slaap geraak nie.”

“Is dit waarom jy vanmôre hier aangekom het, Ousie?” het ek gevra.

“Ja, Gert, ek moes, want iemand moet die droom vir my uitlê.”

“Ek het gedroom dat ek op ’n wandeling deur die dorp was, met ’n groot klomp skoolkinders. Dit was amper soos ’n skooltoer. Ek het met hulle oor die geskiedenis van ons dorp gepraat. Vir hulle die kultuurhistoriese geboue gewys, ek het ook oor die legendariese inwoners gepraat, toe daar skielik ’n geweldige rukwind opgesteek het. Die volgende oomblik, Gert…” het Ousie het skielik stilgebly.

Dit het gelyk asof sy nie die moed gehad het om verder te praat nie.

Die trane het oor haar wange gerol en ek kon sien dat sy baie ontsteld was. Snikkend het sy verder gepraat. “En toe, Ousie,” het ek haar angepor om verder te praat. “Wat het toe verder gebeur?”

Sy het skielik geswyg en diep gesug. “Toe, Gert, het daar skielik iets snaaks gebeur. Die wind het ons uitmekaar geruk en toe sien ons die snaakse gesig, drake, dwaalgeeste en warrelwinde wat ons uitmekaar uit dryf. Ek was benoud en bang en papnat gesweet toe ek wakker skrik.”

Daar was ’n doodse stilte op die stoep. Ek het besef dat die inhoud van die droom was wat haar so ontstel het. Ek het weer koffie geskink en gedrink, want ek wou hê Ousie se ontsteltenis moet bedaar en toe praat sy: “Gert, ek is bekommerd oor die toekoms van ons jongmense.”

Daar was ’n veraf blik in haar oë. “Wat soek die skoolkinders in my droom en die snaakse drake, sulke snaakse slange met vlerke, en die dwaalgeeste, Gert?”

“Jy sien as ’n warrelwind van rig-ting verander, as dit skielik gebeur, hou dit gevaar in, en in my droom het dit skielik gebeur. En die dwaalgeeste, Gert? Is mos mense wie gesterf het wat nie tot rus kom nie, Gert!” het sy uitgeroep.

“Hier kom ’n ding…wat wil daardie mense vir ons sê?” Ousie het ’n derde beker koffie uitgedrink en toe sê sy skielik toe sy opstaan: “Die uitleg van dié droom gaan ons nie in droomboeke kry nie, Gert!”

“Ons, Gert – ek en jy en die mense in ons dorp wie regtig omgee vir skoolkinders, die droom se uitleg lê in ons hande.”