Oud-polisieman kry sewe jaar vir kinderpornografie

’N OUD-POLISIEMAN van Oudtshoorn wat skuldig bevind is aan 200 aanklagte van die besit van kinderpornografie, is verlede Woensdag (18 Augustus) in die Oudtshoorn Streekhof tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Twee jaar hiervan is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.

Dit beteken dat hy effektief vyf jaar tronkstraf sal moet uitdien.

Dale Mackintosh (64) is in 2019 in hegtenis geneem en ingevolge die Wet op Rolprente en Publi­kasies daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van kinderpornografie op sy rekenaar. Sy eksvrou het foto’s ontdek en die rekenaar na die Polisie geneem.

Streeklanddros Daniel Boks het Mackintosh se getuienis dat hy die foto’s vir navorsing wou gebruik, verwerp.
Volgens die landdros was die foto’s, meestal van minderjarige seuns, afskuwelik en grusaam terwyl Mackintosh self erken het dat dit walglik was.

Volgens hom het hy die foto’s van die internet afgelaai, maar was hy nie daarvan bewus dat dit foto’s van minderjariges was nie.

Hy wou ook wys hoe maklik dit is om por­no­grafiese materiaal van die internet af te laai en dat hy kinders wou beskerm.

Die hof het sy ouderdom asook die feit dat hy ’n eerste oortreder is in ag geneem, maar bevind dat korrektiewe toesig, soos versoek deur sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, nie ’n gepaste vonnis sal wees nie.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis vir dié misdryf sal wees.

Boks het tydens vonnisoplegging gesê dit is kommerwekkend dat die beskuldigde so baie fo­to’s afgelaai en dit so lank op sy rekenaar gehou het. Volgens Boks het Mackintosh geen empatie of simpatie vir kinders getoon nie.

Mackintosh is ook onbevoeg verklaar om ’n vuur­wapen te besit.

’n Vriendin van Mackintosh wat gereeld saam met hom by die hof was, het ná sy vonnisoplegging onbedaarlik begin huil en hom omhels voordat hy na die hofselle begelei is. (Deur Garnett Wicomb)