“DIT is vir my ’n fisieke stryd om my allernoodsaaklikste chroniese medikasie te bekom,” sê Jafta Appollis (75) van Bergsig in Calitzdorp. “Ek is al oud en moet nou kilometers aflê daarvoor.”
Die naaste kliniek vir Appollis en ander inwoners van Bergsig is by die daghospitaal in die middedorp geleë. Dit is ver van die gemeenskap wat hulle bedien, veral vir iemand soos hy, sê Appollis.
“Jy stap soggens bitter vroeg van hier af kliniek toe. Kom jy daaronder, is jy doodmoeg en dan moet jy tot 14:00 wag om jou pillle te kry. Jy moet ’n broodjie saamneem, want die wag is lank. Wanneer jy uiteindelik jou pille ontvang het, moet jy maar weer die bult op huis toe aandurf.”
Volgens inwoners is hul chroniese medikasie voorheen by die gemeenskapsaal in Bergsig uitgedeel. Appollis sê hy is bereid om met een van die kerke te praat om ’n plekkie beskikbaar te stel waar hul pille uitgedeel kan word.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in die Tuinroete Distrik, is daar egter “lig aan die einde van die tonnel”.
“Ons probeer dienste nader aan gemeenskappe bring. In die verlede was daar ’n afsetpunt in Bergsig en ons sal die gemeenskap inlig sodra die situasie verander.” (Deur Deon Meyer)
Calitzdorp: Bejaarde stap kilometers vir chroniese medikasie
Jafta Appollis (75) van Bergsig in Calitzdorp.
Foto: Deon Meyer