Dié Covid-struikelblokke by toerismevergadering bespreek

Corleen Barnard (links), Oudtshoorn en De Rust toerismebestuurder; burgemeester Chris Macpherson; Tammy Moult, voorsitter van Oudts­hoorn en De Rust Toe­risme; en raadslid Johan Fourie tydens Oudtshoorn en De Rust Toerisme se algemene jaarvergadering op 19 Augustus by Buffelsdrift Game Lodge. Foto: Robert Koen

DIE toekoms van Oudtshoorn en De Rust Toerisme; die hoop dat Suid-Afrika spoedig van die Verenigde Koninkryk se “rooilys” vir besoekers afgehaal mag word; en die belang­rikheid en rol van ’n toerisme-orga­nisasie was almal punte wat verlede Donderdagaand (19 Augustus) tydens die Algemene Jaarvergadering van Oudtshoorn en De Rust Toerisme deur Hannelie du Toit, hoof-operasionele bestuurder van die Southern Africa Tourism Services Association, aangespreek is.

Die vergadering het die aand by Buffelsdrift Game Lodge buite Oudts­hoorn plaasgevind.

Du Toit het tydens die vergadering uitgebrei oor wat alles struikelblokke is waarmee die toerismebedryf tans tydens die Covid-19-pandemie te kampe het. Sy het ook verwys na die belangrikheid daarvan om inentingsinformasie aan toeriste wat die land wil besoek te verskaf/vertoon, asook gesels oor die moontlikheid van ’n digitale inentingspaspoort vir Suid-Afrikaners wat internasionaal sal wil reis.

Die nuwe toerismekomitee vir die volgende jaar is ook aangewys. Hulle is Alison Moos, Johan Keller, Tammy Moult, Pienaar Muller, Sha­nel Lambrechts, Suné Linde, Jan Venter, Willie Immelman, Lucius Fou­rie, Carina Fourie en Roselle Crafford.