“WANNEER ’n vrou dronk is, gee dit nie haar man die reg om haar te slaan nie.”
So het streeklanddros Daniel Boks verlede week in die Oudtshoorn Streekhof gesê tydens vonnisoplegging van ’n man van Calitzdorp wat sy saamleefmaat en ma van hul twee kinders met ’n stok oor haar kop geslaan het omdat sy dronk was.
Die 26-jarige Jullie Nombekie is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind, ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Hy het aanvanklik tereg gestaan op ’n klagte van poging tot moord.
Nombekie het erken dat hy op 27 Julie 2020 baie kwaad was en vir Rosaline Hufke met ’n stok geslaan het. Die stok het haar teen die voorkop getref, maar sy is nie ernstig beseer nie, het hy in sy pleitverduideliking gesê.
’n Klagte dat hy hul kind van sewe jaar ook met ’n graaf geslaan het, is deur die staat teruggetrek.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof meegedeel dat Hufke erken het dat sy gejok het oor die graafslanery en erken het dat sy ’n drankprobleem het. “Of ’n vrou nou dronk lê of nie, dit gee nie haar man rede om haar aan te rand nie.
Dis Vrouemaand en die soort aanranding kom algemeen voor.”
Arnolds het gesê sy beskou die feit dat Nombekie skuldig gepleit het egter as ’n mate van berou.
Boks het met vonnisoplegging gesê mans kan nie die reg in eie hande neem en hul vroue slaan omdat hulle dronk is nie.
“Vroueslaners moenie verwag om ’n goue handdruk van die howe te kry net omdat hulle die broodwinner van die huis is nie. Hulle kan ook tronk toe gestuur word,” het die landdros gesê.
“ ’n Vrou kan hoe dronk wees. Daar is kinders ook. Dit is nie hoe dit werk nie en hulle sien hoedat Pa vir Ma slaan. Die slanery stop vandag met dié vonnis,” het die landdros gesê.
Boks het aan Nombekie gesê dat hy baie gelukkig is om nie tronk toe te gaan nie. Hy het een vorige veroordeling en is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Nombekie is ook gevonnis tot drie jaar korrektiewe toesig wat behels dat hy 24 uur per dag onder huisarres sal wees, behalwe vir werk- en kerk-doeleindes.
Nombekie is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)