’N LAPELWAPENTJIE wat aandui dat die draer daarvan teen Covid-19 ingeënt is, is by die Oudtshoorn Toerismekantoor teen R30 elk te koop.
Die gedagte vir so ’n klein aansteekwapentjie het by Derick Engelbrecht, ’n Oudtshoorniet wat al jare lank in dié bedryf betrokke is, ontstaan. Engelbrecht sê toeriste wat die gebied besoek, wil dikwels weet of die mense in die toerismebedryf met wie hulle in aanraking kom, teen Covid-19 ingeënt is.
“Toeriste sê hulle wil nie graag die kelner wat hulle bedien, of die persoon wat hulle ontvang, vra of hulle ingeënt is nie, maar sal tog die gemoedsrus wil hê om te weet die persoon is ingeënt.”
Na aanleiding van dié behoefte by besoekers het Engelbrecht ’n voorbeeld van ’n aansteek-wapentjie laat maak en groot steun daarvoor gekry toe hy dit verlede Donderdagaand by die Algemene Jaarvergadering van Oudtshoorn Toerisme gedeel het.
Engelbrecht sê dit wil voorkom of die behoefte wyer is as net die toerismebedryf.
“Ook die burgemeester, Chris Macpherson, het sy steun vir so ’n projek uitgespreek en gesê hy sal graag self so ’n wapentjie wil dra.”
Hy sê dr Wessel Vermeulen, ’n plaaslike geneesheer en ’n raadslid van die SA Mediese Vereniging, het ook aangedui hy ondersteun die projek en het namens SAMA reeds ’n bestelling vir wapentjies geplaas. (Deur Liesel le Roux)
Wapentjie kan toeriste help veiliger voel
Die klein lapelwapen wat by die toerismekantoor op Oudtshoorn te koop is.