‘Fantasties in die Klein Karoo’

Brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, in haar kantoor. Foto: Liesel le Roux

DIT is vir haar fantasties om te kon terugkeer na die Klein Karoo en nou hier op Oudtshoorn te kan woon, sê brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

Crafford, wat in Ladismith gebore is en grootgeword het, het 34 jaar in die Johannesburg-omgewing gewerk voordat sy op 1 Julie 2020 as stasiebevelvoerder op Oudtshoorn aangestel is.

Sy is die ma van ’n seun, Claude Pitout (22), wat tans onderwys studeer, en hou styf duimvas dat hy na sy studie nader aan haar hier in die Suid-Kaap sal kom skoolhou.

Crafford wat sedert 2001 senior bestuursposisies in die polisie beklee het, was in 2019 stasie­bevelvoerder van die Booysens-kantoor in Johannesburg. Sy spog ook met ’n M Tech-polisie- meestersgraad.

Sy sê die “misdaadprentjie” in die stad en die platteland verskil baie. “Daar het ek met bendes gewerk, busse is gebrand, stasies is afgebrand…”

Op Oudtshoorn is kontakmisdade soos gesinsgeweld weer van die groot probleme.

“Hier is verskriklik baie gesinsgeweld in Oudts­hoorn. En dit kom wyd voor. Jy kan nie sê die oorsaak is net drank of dwelms nie, of dat dit net voorkom by mense wat swaarkry nie. Dis iets wat ook voorkom in baie middelklas- en welvarende huishoudings en by mense waar jy sal dink dit sal nooit gebeur nie.

“Gesinsgeweld is ’n realiteit. ’n Mens sal dink dis Vrouemaand en dat daar minder sake sal wees, maar daar is nie. Daar is baie geweld teen vroue en kinders, byna elke dag. Aan die ander kant is daar ook vroue wat aggressief is en diegene is teen wie beskermingsbevele verkry moet word.”

Sy sê drank en dwelms speel in tagtig persent van hierdie gevalle ’n rol.

“Dit plaas baie druk op ons. Ons het in die eerste twee weke van die maand al vier pogings tot moord gehad om te ondersoek.”

’n Groot probleem is voorts dat baie klagtes van gesinsgeweld wat deur mans en vroue ingedien en deur die polisie ondersoek word, in ’n stadium deur die klaers teruggetrek word, soms selfs al die volgende oggend.

“Volgens ’n ontleding word sowat 46% van hier­die sake uit die hof gegooi omdat dit teruggetrek word of om ander redes. Dit mors baie tyd en hulpbronne.”

Nog ’n groot probleem op Oudtshoorn is dwelmhandel en -misbruik.

Crafford sê sy het nooit besef dwelmhandel is so groot in Oudtshoorn nie. Daar is bykans elke dag arrestasies – tussen 20 en 50 per maand, terwyl die landelike blitspatrollie se twee voertuie tussen Oudtshoorn en Ladismith en George ook baie besig is as gevolg van dwelmhandel.

“Dit is vir ons belangrik om inligting te kry oor dwelmverspreiding en daarmee moet inwoners ons help. Dit help nie die mense met klein hoeveelhede dwelms word vasgetrek nie; dit is belangrik dat ons inliging kry oor die mense wat betrokke is by die dwelmhandel. Ons inligting is heeltemal te min. Ons wil die gemeenskap vra: Bring vir ons die inligting.”

Oor spesifieke tendense sê Crafford dat hekke en heinings tans veral in die nag in alle dele van die dorp gesteel word. Sy sê voorts dat almal wat in die openbaar met gevaarlike messe rondloop tans in hegtenis geneem word aangesien jongmense met messe onlangs by voorvalle van roof betrokke was.

Die goeie nuus is egter dat misdaad afgeneem het in vergelyking met die ooreenstemmende tyd verlede jaar terwyl daar terselfdertyd meer inhegtenisnames is.

Aan die negatiewe kant is heelwat lede in die polisie vandeesmaand positief vir Covid getoets wat net weer die risiko waaronder die polisie werk, beklemtoon.

“Ons werk hard om ons omgewing baie higiënies te hou en ontsmet deurgaans. Maar gevalle kom steeds voor waar personeel dit van buite af aansteek.”

Daar is ook baie uitdagings en behoeftes op Oudtshoorn – vir meer beamptes, meer voertuie, maar dit is net nie binne die huidige polisiebegro­ting moontlik nie. Sy sou ook graag soos in Johannesburg bemagtigingskursusse vir vrouepersoneel wou aanbied, maar sulke opleiding is duur en kor­poratiewe borge nie so maklik be­kombaar soos in stede is nie.

Crafford is egter baie trots op die span saam met wie sy op Oudtshoorn werk.

“Dit is regtig ’n goeie span. Die mense werk hard en almal het my vandat ek hier gekom het baie goed ondersteun. Van die begin af werk hulle saam, en, ja, vir die wat wil weet, ook die mans – hulle dra my op die hande.”

“Ons saam sal alles doen om hierdie mooi dorpie te beskerm. Dis ’n pragtige plek”.

Sy vertel dan hoe hulle saamgewerk het om op Vrouedag na die Kliplokasie-gemeenskap in Volmoed uit te reik. “Ons het tussen ons 100 leë koffiebottels volgemaak met lensies en boontjies en pasta en sopbestanddele en dit aan 100 families daar oorhandig. Dit het uit ons harte gekom.” (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "‘Fantasties in die Klein Karoo’"

  1. Regina Palko | 08/27/2021 at 20:55 |

    Brigadier Crawford is baie committed. Ken haar v Johannesburg Sy is ontsettend hardwerkend en werk vd gemeenskap. Ek baie bly dat sy so steunpillaar is. Sy is goud werd. Oudsthoorn kan baie trots wees op haar en wat sy en haar span al vermag het.

Comments are closed.