7 ReWOLusie-komberse Sondag onder hamer

Drie van die sewe komberse van katoendraad wat tydens vanjaar se ReWOLusie-hekelprojek gemaak is en wat Sondag 5 September op die KKNK-Facebookblad opgeveil word. Die drie komberse bo van links is die handewerk van Maritha Deenik, Bets Wilkinson en Janine Kotze. . Foto’s: Ilse Jordan

SEWE pragtige komberse wat vroeër vanjaar as deel van die KNNK se ReWOLusie-projek ge­he­kel is, word Sondag (5 September) op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Facebook-blad opgeveil.

Honderde hekelaars van regoor Suid-Afrika en selfs in die buiteland het oor 13 weke komberse gehekel deur ’n patroon te volg wat deur ’n krea­tiewe Oudtshoorniet, Bets Wilkinson, geskep is.

“Die opstel van die meesterpatroon was nie maklik nie, ” sê Wilkinson. “Om met net ’n paar bolletjies hekelgare en ’n hekelpen ’n kombers te begin hekel met slegs ’n paar idees in my kop, was uitdagend. Dit was egter lekker om kreatief te wees en met patrone en kleure te speel. My verbasing oor die positiewe verskil wat dié kombers in mense se lewens gemaak het, is ook groot.”

Meer as 1 500 belangstellendes uit Suider-Afrika en tot so ver as Kanada, het geregistreer om deel te neem,” vertel Madeleine Miles, die mees­ter­brein agter die projek.

Volgens haar sal alle fondse wat met die aanlynveiling ingesamel word, gebruik word vir vrouebemagtigingsprojekte deur middel van hekel en brei, byvoorbeeld deur produkte te skep wat aanlyn en elders verkoop kan word.

Miles sê met ReWOLusie wat ’n vennoot van die 67 Blankets for Madiba-projek is, hekel en brei Oudtshoorniete komberse wat aan behoeftige persone as deel van dié projek uitgedeel word.

Die sewe komberse word op 5 September op die KKNK se Facebook-blad opgeveil.

Hulle is gemaak deur Hannelie Rix (pienk met blou, geel en groen, 127 cm x 168 cm), Justine Cordier (pienk met rooi en blou, 128 cm x 188 cm), Janine Kotze (ongebleikte katoen, 134 cm x 195 cm), Deleze van der Walt (donkerblou, ligblou en grys, 120 cm x 170 cm), Heléne Lourens (ligblou en grys, 124 cm x 180 cm), Bets Wilkinson (oorspronklike bloudruk , 126 cm x 183 cm) en Maritha Deenik (groen-blou skakerings met grys, 123 cm x 176 cm).

Hannelie Rix vertel sy het met groot afwagting uitgesien na Maandae.

“Dit was vir dertien weke my hoogtepunt wanneer die patroon vrygestel word. Maandae was nie meer blou nie, maar gevul met die lieflikste lente- kleure van my kombers. Wat ’n voorreg om hierin te kon deel met mede-hekelaars.”

Justine Cordier sê die kombers het haar herinner dat dit piekfyn is om uit te staan en gewaagd te wees. “Maar nóg meer belangrik, was dit ook wonderlik om in ’n tyd van donkerte en hartseer aan ’n projek te werk wat kleur en geluk in die lewens van baie mense bring.”

Heléne Lourens voel dieselfde. “Terwyl ek die kombers gehekel het, het ek gehoop en geglo dit gaan iewers vir iemand vreugde verskaf. As jy onder ’n gehekelde kombers toegegooi is, is jy met liefde toegegooi.”

“Ons leef in ’n tyd van onvoorspelbaarheid en soms moet ons net herinner word om die eenvoudige skoonheid in die wêreld rondom ons te waardeer. Hierdie kombers is daardie herinnering,” sê Janine Kotze.

Deleze van der Walt sê ReWOLusie was vir haar ’n kombinasie van harde werk en speel. “Ek is deurlopend daaraan herinner dat die samelewing uit mense bestaan wat so baie van mekaar verskil – soos die verskillende patrone in die kombers – maar ook hoe elkeen sy rol speel om ’n interessante, unieke geheelbeeld te skep. Daar is soveel skoonheid in kontras, kom ons waardeer dit ook van mekaar.”

Maritha Deenik, wat die patroon vooraf help toets het, sê die saamwerk agter-die-skerms en geheimhou van die patroon voor elke Maandag se vrystelling, was vir haar baie lekker. “Die saam-hekel het soveel liefde vir die span gebring. Hekel hou my brein te besig om depressiewe gedagtes toe te laat. Ingewikkelde patrone, interessante wol­kleure en teksture word uitdagings vir my gedagtes en kreatiwiteit ontwikkel eerder as verveeldheid.”

Diegene wat steeds hul hand en hekelnaalde met die meester-patroon wil waag, kan dit tot die einde van September op die KKNK se webblad kry, waarna dit plek sal maak vir nuwe idees.