’N OUD-INWONER van Oudtshoorn wat die afgelope minstens vyf jaar in die Kaap gewoon het, is op 9 Oktober – 40 jaar nadat hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is, in die ouderdom van 76 oorlede.
Hy is gister op sy geliefde tuisdorp in die Klein Karoo begrawe.
Francois Serfontein, wat sy hele lewe in die Klein Karoo spandeer het en met heimwee oor sy jare hier gepraat het, het volgens een van sy drie seuns, Werner, vandat hy 35 jaar oud was, aan motorneuronsiekte gelei.
“Met die diagnose het die dokters hom net ses maande gegee om te leef. Hy het uiteindelik 76 jaar oud geword!” skryf Werner in ’n brief aan Die Hoorn.
Werner werk tans as ’n opvoeder in Pole.
Volgens Werner het sy pa homelf deurentyd as ’n Oudtshoorniet beskou, al het hy die afgelope jare in Kaapstad gewoon, en altyd gepraat oor sy dae op Oudtshoorn, en oor sy grootwordjare op Daskop, die familieplaas, en sy kinderjare op Heroldt.
“Hy was ’n vriendelike, opgeruimde mens wat altyd die goeie in almal raakgesien het en altyd bereid was om te help.
“Hy was lief vir mense en baie lief vir sy kinders en kleinkinders,” skryf Werner.
Francois het volgens Werner jare lank by die Oudtshoorn Munisipaliteit se elektriese afdeling gewerk.
“Almal op die dorp het hom geken, selfs toe hy in sy rolstoel beland as gevolg van die motorneuronsiekte.”
Werner vertel in sy brief dat Francois sy eggenoot en die ma van sy kinders, Marita, in 1996 verloor het aan komplikasies weens ’n nieroorplanting.
“Hierna het hy vir Lindza Oosthuizen ontmoet wat sy lewensmaat geword het, en hulle het mekaar ondersteun en baie liefgehad.
“My pa het besluit om Kaapstad toe te trek en by haar te gaan woon, waar sy hom versorg het terwyl hy in ’n rolstoel beland het as gevolg van die siekte. Hy was toe ook nader aan die hospitaal.
“Sy laaste dae was swaar waar hy twee maande in die hospitaal was en tot die bitter einde met alle krag wou huis toe gaan.”
Buiten sy liefde vir Oudtshoorn en die Klein Karoo, was sy pa se grootste helde volgens Werner die Here, Elvis Presley en Frik du Preez.
“En hy was ’n groot Blou Bul-ondersteuner,” het hy bygevoeg.
Francois laat sy drie seuns Werner, Ryno en Renier; sy lewensmaat Lindza en twee kleindogters agter.
Die begrafnisdiens het gister op Oudtshoorn plaasgevind waarna hy in die Oudtshoorn Begraafplaas terruste gelê is. Francois is langs sy oorlede vrou begrawe.
’n Uittreksel uit die begrafnisbrief lees soos volg: “Jy was so ’n groot voorbeeld vir ons almal. Jy wat self gesukkel het met jou siekte en steeds regop gestaan het om almal te help. ’n Lewensmaat en pa wat altyd verstaan het en advies gegee het wanneer dit nodig was. ’n Persoon wat altyd die goeie in almal raakgesien het, maar nooit geoordeel het nie. Jy was so naby aan die Here en het ons so goed geleer om by die lewe aan te pas… Jy was ’n yster en ons hero. ’n Pa om na op te kyk, al het ons geweet hoe baie jy worstel met jou eie gemoed… Jy was ’n voorbeeld van liefde, geduld en uithouvermoë. Ons is ontsettend baie lief vir jou en gaan jou baie mis!” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Oud-inwoner wat 40 jaar met motorneuronsiekte leef oorlede
Francois Serfontein. Foto verskaf