
ONLANGSE opknappings, herstelwerk en skoonmaakpogings by Oudtshoorn se NA Smit-swembad deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en inwo- ners (hoofsaaklik lede van die Oudtshoorn Sportinisiatief) het weer hoop gebring dat kompeterende swemgalas nie verlore is vir Oudtshoorn nie.
Dié swembad was inderdaad Dinsdagmiddag gereed om die Eden Tweekampproewe aan te bied na noodsaaklike onderhoudwerk daar gedoen is. Na dié proewe is ’n Eden-tweekampspan gekies wat op 31 Oktober aan die interprovinsiale tweekampkampioenskap in Gqeberha sal deelneem.
Onvoldoende onderhoud by die swembad het vroeër vanjaar tot gevolg gehad het dat Eden Aquatics van sy galas na Conville in George verskuif het. Een daarvan was die Freda Barnard-swemgala wat na 40 jaar op Oudtshoorn vroeër die maand ook George toe is weens die swak toestand van die NA Smit-swembad en geriewe. Dit het groot ontsteltenis op Oudtshoorn tot gevolg gehad.
Die munisipaliteit het klaarblyklik ag hierop geslaan, en die afgelope twee weke ingespring met herstelwerk aan die swembad. Munisipale werkers en private kontrakteurs het verslete pype vervang en die swembad oorgeverf, terwyl ’n groep vrywilligers die ablusiegeriewe opgeknap het.
Die munisipale raad en uitvoerende span van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Dinsdag in ’n persverklaring erken dat instandhouding by die dorp se swembaddens uiters belangrik is.
“Om hierdie rede het ons beide interne en eksterne belanghebbendes betrek voor die heropening van die munisipale swembaddens,” lui die verklaring. ’n Omvattende swembadinstandhoudingsplan is ontwikkel en eerste by die NA Smit-swembad geïmplementeer, waarna dit na al die ander munisipale swembaddens uitgerol sal word.
“Ons personeel het saam met professionele swembadherstel- en instandhoudingsvennote gewerk om die swembadpompe, filters, swembadlekkasies en loodgietersprobleme te herstel terwyl onderhoudswerk aan die chlorineerder en beligtingstelsel gedoen is.”
Swembadtoerusting is waar nodig deur professionel vennote geïnstalleer om die waterkwaliteit te verbeter. Opsigters is voorts by elke swembad aangestel wat moet verseker dat die swembaddens gereeld skoongemaak en swembadtoerusting behoorlik in stand gehou word.
In reaksie op die werk wat deur werknemers, kontrakteurs en inwoners gedoen is, het Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, gesê hy is vol vertroue dat daar nou ’n goeie program asook die nodige toewyding is om die NA Smit-swembad weer as ’n gesogte fasiliteit te vestig.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, het Dinsdag voor die proewe gesê dié skoonmaak- en herstelproses is ’n tree in die regte rigting, maar dat daar nog baie werk gedoen sal moet word om seker te maak sportbyeenkomste bly in Oudtshoorn, of dat organiseerders die byeenkomste wat die dorp reeds verloor het, sal terugbring.
“Die ongelukkigheid en bakleiery oor die swembad en ander sportgeriewe op Oudtshoorn kom al lank aan. As jy gaan kyk na wie die swembad en atletiekbaan die meeste deur die jaar gebruik, is dit sekerlik Eden Tweekamp. Ons het dus ’n groot aandeel in hierdie geriewe se toestand, want ons is afhanklik daarvan vir al ons byeenkomste. Ek het al baie met beide die raad en sakelui op die dorp gesels en gewaarsku dat ons byeenkomste sal verloor as ons nie aandag aan die geriewe skenk nie, en dat hulle die grootste verliese sal lei indien byeenkomste nie meer hier plaasvind nie.”
Volgens Van der Walt is die “vrywillige inwoners” wat ingespring het om die geriewe bydie swembad op te kikker, lede van die Oudtshoorn Sportinisiatief, wat uit hul eie borge en skenkings vir materiaals, soos byvoorbeeld teëls, verkry het.
“Hierdie hele ding is ’n gemeenskapspoging, en ons kan nie vergeet dat dit nie net een persoon is wat besluit waar ’n byeenkoms gehou word nie – daar is ’n hele bestuur betrokke by hierdie byeenkomste. Daar is dan ook verskeie redes hoekom ’n byeenkoms in ’n spesifieke dorp gehou word. Dus moet ons seker maak ons geriewe is op die hoogste standaard. Dit is ten minste ’n ligpunt dat daar nou op raadsvlak aandag hieraan geskenk word. Daar is nog baie werk om by die swembad en ander fasiliteite op die dorp te doen, maar nou is daar darem lig aan die einde van die tonnel.”
• Net voor druktyd gister het Van der Walt die volgende terugvoer oor die tweekampproewe na Die Hoorn gestuur: Na ’n ongelooflike saamspanpoging deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en lede van die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) om die NA Smit-swembad gereed te kry vir dié byeenkoms, kon ’n Edenspan van 75 lede gekies word. Netjies geverfde ablusiegeriewe en ’n swem- bad met werkende pompe en helder water het op swemmers gewag. Groot dank aan burgemeester Chris Macpherson, sy munisipale span asook Wilma Pienaar, interim-voorsitter van die OSI, en al die sakelui wat bygedra het! Dit is weer eens ’n bewys wat kan gebeur as almal saamwerk.”
• Die Edenspan is gisteroggend gefinaliseer. Die drie toppresteerders was Estie Loock-Bezuidenhout, Petro Fourie en Benjamin Bond. (Stefan Skapie Goosen en Liesel le Roux)