Ontslagaansoek vir Berry uitgestel na November vir beslissing

DIE verhoor van Sidney Berry (27) van Groot Brak­­rivier, bestuurder van die motor waarin Mari­lize Nortier (18) in September 2019 gesterf het, is in die Oudtshoorn Streekhof deur landdros Vaughn Shone tot 16 November uitgestel vir ’n beslissing ten opsigte van ’n Art 174-ontslagaansoek deur Berry se ver­dediging.

Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, voer aan dat hoewel hy die bestuurder van die motor was en Nortier na die ongeluk in die sloot water verdrink het, die staat nie genoegsame getuienis voor die hof gebring het om hom skuldig te bevind nie.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, staan die aan­soek teen.

Volgens haar het die staat ’n sterk prima facie-saak teen die beskuldigde wat tot sy moontlike skuldigbevinding op die klagte van strafbare manslag kan lei. “Die beskuldigde is die enigste lewende persoon wat die hof kan meedeel wat onmiddellik voor die ongeluk gebeur het, en die staat se mening is dat dit niks anders as nalatigheid was wat tot die ongeluk gelei het nie,” het Jordaan gesê.

Die staat het sy saak op 4 Oktober gesluit na die getuienis van nog vier staatsgetuies, waaronder die oorledene se stiefmoeder, Jeanette Nortier.

Mone Rowe, ’n vriendin van Marilize, het getuig dat sy die betrokke dag ’n geleentheid saam met Berry na Oudtshoorn gekry het en nie baie veilig in die motor gevoel het nie. Sy is die aand na die Braaikraal waar haar vriend, André Burger, as kroegman gewerk het. Sy het by die oorledene gehoor dat sy die aand by ’n vriendin sou oor­slaap. Sy kon nie sien dat die beskuldigde dronk was nie.

Andrew Coetzer, verloofde van Berry se ma, het getuig dat hy die oggend na die ongeluk saam met haar op die ongelukstoneel was en Berry in die pad gekry het. Hy het gesien dat Berry beseer is en dringend mediese hulp nodig het. Op ’n vraag van Bans of dit vir hom ook no­dig was om sy motor se vensters af te draai omdat Berry erg na drank geruik het, het hy nee geantwoord.

Burger het getuig dat Rowe hom ook mee­ge­deel het dat sy onveilig in Berry se motor gevoel het. Hy het vir Berry ’n brandewyn gegee om hom te bedank vir die geleentheid wat hy Rowe gegee het.

Hy kan onthou dat die beskuldigde self ook brandewyn gekoop het omdat dit op ’n “special” was, maar kon nie sê hoeveel keer nie.

Bans het dit aan Burger gestel dat sy geheue baie selektief is en hy net sekere dinge kan onthou
Volgens Bans sal hy argumenteer dat Burger en Rowe se getuienis baie ooreenstem wat daarop dui dat hulle vooraf besluit het wat om te getuig en die hof met die grootste versigtigheid daarna moet kyk. (Deur Garnett Wicomb)