’N MAN (27) van Oudtshoorn wat van roof met verswarende omstandighede aangekla is en byna twee jaar in aanhouding was, is in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat hy slegs aan diefstal skuldig bevind is.
Jason Ewerts is daarvan aangekla dat hy vir Austin de Villiers op 21 Maart 2018 van ’n baadjie ter waarde van R400 en tekkies ter waarde van R500 beroof het deur ’n mes teen sy keel te druk.
Die klaer kon egter nie sê wie hom beroof het nie, maar die polisie het die baadjie en skoene in Ewerts se besit gevind.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê die hof kan nie bevind dat Ewerts vir De Villiers beroof het nie maar dat die gesteelde items wel in sy besit gevind is.
Die beskuldigde het verkies om nie te getuig nie, maar dit kan nie teen hom gehou word nie.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof versoek om Ewerts se elf vorige veroordelings vir vonnis in ag te neem en dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees.
”Die beskuldigde toon absoluut geen respek vir andere se eiendom nie en het reeds op ’n baie jong ouderdom besluit om ’n loopbaan van misdaad te kies. Vorige vonnisse het duidelik geen uitwerking op die beskuldigde gehad nie.”
Die landdros het Ewerts se twee jaar in aanhouding vir vonnisoplegging in ag geneem en hom tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. (Deur Garnett Wicomb)