’N GEDENKSTEEN wat op die middelman in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn gestaan het, is tans in veilige bewaring by die Oudtshoorn Brandweer.
Van die sandsteen is beskadig toe die gedenksteen op 21 Januarie 2020 deur die munisipaliteit verwyder is. Dit was oorkant Queenslaan wat tussen die CP Nel Museum en die Queen’s Hotel loop, geleë.
Vier belangrike bedrywe in die gskiedenis van Oudtshoorn word op die gedenksteen uitgebeeld - volstruise, tabak, toerisme en die dorp se historiese geboue.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudts-hoorn Munisipaliteit, is die gedenksteen verwyder nadat dit deur ’n vragmotor raakgery en sodanig beskadig is dat dit vir die veiligheid van die publiek en die behoud van die gedenksteen self verwyder moes word.
Hy sê die plaaslike erfenisorganisasie, Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE), het reeds aangedui klip-werkkenners is bereid om die munisipaliteit te ondersteun met die herstel en heroprigting van die gedenksteen.
HOE het voorgestel dat die gedenksteen op die terrein van die CP Nel Museum heropgerig word. Die munisipaliteit skenk tans aandag aan dié voorstel.
Die gedenksteen is 30 jaar gelede in Baron van Reedestraat opgerig nadat die straat breër gemaak is. Volgens Hazel Jonker, erfeniskenner, is die steen deur Wynand Festraers uit sandsteen gemaak, met bronsplate wat die vier belangrike bedrywe in die Oudtshoorn-omgewing uitbeeld.
Bakstene op die middelman waar die steen gestaan het, is verlede week herstel. (Deur Angelique Erasmus)