Grand Street Studios in nuwe hande vanaf 1 Maart

DIE span van Grand Street Studios op Oudtshoorn brei uit! Die plaaslike sakemanne Jaco Vorster en Johan van Heerden sal die besigheid op 1 Maart oorneem.

Jaco en Johann is ook die eienaars van Camp Roadhouse en Oudtshoorn-Wes Handelshuis op Oudtshoorn.

Die vorige eienaars, Jurgen Cappelle en Melissa Wentzel, verhuis na België, Jurgen se geboorteland, maar sal steeds op vryskutbasis by Grand Street Studios betrokke bly om bestaande kliënte soos die afgelope jare by te staan.

Grand Street Studios wat in 2004 deur Hans van der Veen begin en in 2014 deur Jurgen oorgeneem is, fokus op grafiese ontwerp, “branding”, gedruk­te bemar­kings­­­­materiaal, druk van foto’s en groot­for­maatdrukwerk, bemarking en strate­- ­gieë, webtuistes en digitale ontwerp.

“Ons wil vir Hans, Jurgen en Melissa sê: Welgedaan met wat julle op die been gebring het,” het Jaco dié week gesê.

“Ons wil voortgaan om die besigheid uit te bou, terwyl Jurgen en Melissa steeds betrokke sal bly.”

Volgens Johan gaan die span binnekort verder uitbrei met nog personeellede wat by hulle sal aansluit.

Hy het gesê hulle sien daarna uit om die verhouding met huidige kliënte nog verder te versterk en bande met nuwe kliënte te bou.