VERSKEIE toneelstukke en musiekproduksies wat teaterpryse gewen het of benoem is vir teaterpryse is vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn te sien.
kykNET-Fiëstas
• Queenie-hulle, ’n tragiekomedie oor ’n groep bergies in Kaapstad wat ongewone nuus ontvang, het vanjaar weggestap met die pryse vir beste aanbieding, beste nuutgeskepte Afrikaanse teks (Christo Davids en Lloyd Davids) en beste akteur (Brendan Daniels). (24 tot 28 Maart)
• Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell waarvoor Sandra Prinsloo die Fiësta gewen het vir beste spel in ’n solo-vertoning kom ook KKNK toe. Dis gegrond op ’n ware verhaal wat onder meer tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel. (25 tot 29 Maart)
• Eet kreef! het die Fiësta gewen in die kategorie vir beste musiekgedrewe produksie – podium. Dit bring hulde aan die Voëlvry-beweging, en Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, 30 jaar nadat die album Eet Kreef! uitgereik is. (24 en 25 Maart)
Benoemdes vir vanjaar se Fiëstas wat op pad is na die KKNK is die volgende:
• ALTEmit acapella, vier altstemme met ’n unieke aanslag; Amanda Strydom: Nostalgie met Amanda wat vir die 26ste keer by die KKNKgaan optree; die Soweto String Quartet; die sanger en kitaarspeler Loki Rothman; die toneelstukke Die Dinge van ’n Kind (met Cintaine Schutte, ’n verwerking van Marita van der Vyver se boek); Tien Duisend Ton (ook met Cintaine Schutte en Albert Pretorius oor ’n jong paartjie wat op ’n komiese en tragiese manier worstel met die vrae oor kinders grootmaak, klimaatsverandering, familie, verandering, hoop en verraad); en Die Hart Verklap (’n solo-vertoning met Chris Vorster wat ’n verwerking en vertaling is van die Amerikaanse skrywer Edgar Allan Poe se kortverhaal The Tell-Tale Heart).
Fleur du Cap-teaterpryse:
Twee produksies by vanjaar se KKNK is vir die gesogte Fleur du Cap-teaterpryse benoem.
• The one who sings met Zolani Mahola, hoofsanger van Freshlyground, is benoem as beste aktrise in ’n musiekblyspel of musiekproduksie. Dis haar eie verhaal met die kollig op temas soos identiteit en hoe om struikelblokke te bowe te kom; ’n aangrypende stuk teater wat openhartig vertel word. (25 tot 28 Maart).
• Vlooi en die storieboek is in die kategorie vir beste produksie vir kinders of jongmense benoem. As jy vermaak vir die hele gesin soek, is dié produksie ’n moet. (24 tot 26 Maart).
• Kaartjies by Checkers/Shoprite en Computicket.