Celebratio deel van KKNK

Die granaatplaas Celebratio is vanjaar vir die eerste keer deel van die KKNK-program.

DIE granaatplaas Celebratio buite Oudts-hoorn is vanjaar vir die eerste keer deel van die KKNK-program met twee produksies wat op 26 en 27 Maart daar op die planke is.

Gerhard Meyer het reeds toe hy die plaas in 2008 gekoop het, beplan om eendag unieke konserte hier aan te bied en om sodoende mense bekend te stel aan die Celebratio-handelsmerk. Maar eers moes hy dié voormalige volstruis-en-lusernplaas bewerk en herontwikkel in ’n uitvoerplaas met 36 000 granaatbome, ’n pakhuis en koelkamer vanwaar vrugte direk via Kaapstad-hawe uitgevoer kon word.

Om die konserte moontlik te maak en aan besoekers ’n besondere ervaring te verseker, is ’n permanente verhoog in 2018 gebou, ligte is opgesit in die parkeerareas en meer as ’n honderd bome is aangeplant om skaduparkering te skep. ’n Professionele klankstelsel is aange-koop en die stalletjies is gebou vir deelnemende restaurante.

Meyer het die afgelope 25 jaar met verskeie internasionale en plaaslike kunstenaars saamgewerk en onder andere die Cultivaria-fees in die Paarl op die been gebring. Sedert hy drie jaar gelede permanent plaas toe getrek het, verkies hy egter om eerder sy unieke produksies op die plaas aan te bied as om die land vol te toer daarmee.

Die eerste een, Klassieke Klein Karoo Kersfees, is in Desember 2018 aangebied en was ’n reuse-sukses. Intussen is verskeie ander konserte hier aangebied en was dit nie net uiters gewild nie, dit het ook gehelp om ’n nuwe ekonomiese inspuiting vir die omgewing se gastehuise en restaurante te bied.

Meyer is die samesteller en uitvoe-rende regisseur van die produksies wat hier aangebied word, en wat nêrens anders in Suid-Afrika gesien kan word nie.

Ná verskeie versoeke van gereelde konsertgangers by Celebratio dat daar tydens die KKNK ook vertonings op die plaas moet wees, het Meyer die KKNK-bestuur genader met ’n voorstel wat aanvaar is. “Met die samewerking van die KKNK kry feesgangers nou ’n unieke ervaring om ’n wêreldklasproduksie onder die Klein Karoo se sterre te beleef, wat dit sekerlik meer uniek maak as om dieselfde produksie in ’n teater of skoolsaal op die dorp by te woon,” vertel Meyer.

Die eerste konsert, op 26 Maart, is The Music of Neil Diamond, uitgevoer deur Johan Liebenberg en onder andere Denny Laloulette en Jaconell Vey in die orkes. Die program bevat al Diamond se treffers en sluit ’n paar interessante staaltjies van Diamond se loopbaan in.

Die Classical Tribute to the Music of Andrew Lloyd Webber op 27 Maart spog met vier van die land se top-kunstenaars. Dit is die eerste keer dat André Schwartz, Corlea Botha, Jannie Moolman en Kevin Leo die treffers van Lloyd Webber saam sal opvoer. Hulle deel die verhoog met die Stellenbosch Stadsorkes.

Meer as 700 kaartjies is reeds vir die twee aande verkoop, wat die gewildheid van dié unieke produksies net bevestig. Daar is steeds kaartjies beskikbaar by Computicket.