Landdros November groet Oudtshoorn

DIE personeel van die Oudtshoorn Landdroshof het onlangs tydens ’n spesiale geleentheid in die C-hof afskeid geneem van landdros Theolen November wat ’n permanente betrekking as landdros in Kuilsrivier aanvaar het.

Die streekshofbestuurder, Royden Boon­­zaaier, het November bedank vir die tyd wat hy op Oudtshoorn werksaam was en hom alles van die beste toegewens.

“Ons het baie van u geleer en dankie vir die feit dat u al die uitdagings verstaan het,” het Boonzaaier gesê.

Volgens Lisa Cremer, distrikshof-beheeraanklaer, is dit die tweede keer dat afskeid geneem word van November.

Die eerste keer was toe hy as staatsaanklaer in Calitzdorp aangestel is.
Volgens haar het hy die potensiaal om nog “baie ver te kom”.

Ao Frederick van Rooyen, het November namens die ordonnanse bedank vir die manier waarop hy hulle behandel het.

Volgens hom was November nie iemand met ’n hart van klip nie en het hy almal met respek behandel.

Hy het November gevra om die Karoo se naam in die Kaap hoog te hou.
Pinky Mpiko en Vuyo Klaasen het namens die tolke hul waardering uitgespreek vir alles wat hulle van November geleer het.

“Dit het ons selfvertroue gegee en ons verloor vandag ’n juweel,” het Mpiko gesê.

Volgens Klaasen het November die tolke gemotiveer en hom gevra om die mens te bly wat hy is.

’n Bewoë November het op sy beurt almal bedank vir die aangename tyd wat hy as landdros op Oudtshoorn geniet het. (Deur Garnett Wicomb)