Onwettige vuurwapens en ammunisie: Vier vasgetrek tussen Herold en Uniondale

Die gekonfiskeerde vuurwapens en ammunisie sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit dalk in 'n misdaad gebruik is. Foto verskaf

Die oplettendheid van ‘n polisiebeampte by ‘n ongelukstoneel tussen Herold en Uniondale het daartoe gelei dat vier mense in die vroeë oggendure in hegtenis geneem is en die polisie beslag gelê het op twee vuurwapens en ammunisie.

Die vier – tussen die ouderdomme van 28 en 42 jaar – was volgens kapt Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, insittendes van ‘n Toyota wat vroeg vanoggend op die N9 op pad na Uniondale die pad verlaat en omgeslaan het. “Die bestuurder het beheer verloor. Al vier is lig beseer en per ambulans na die George Hospitaal geneem vir behandeling.”

Pojie sê ‘n polisiebeampte op die ongelukstoneel het “vreemde, suspisieuse gedrag””opgemerk by die vier en sy kollegas gevra om hul bagasie by die hospitaal te deursoek. Hier is twee 9 mm-pistole en ammunisie gevind.

“Die vier is aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en tans in aanhouding in die George Polisieselle. Hulle sal môre (Maandag 7 Desember) in die George Landdroshof verskyn.”

1 Comment on "Onwettige vuurwapens en ammunisie: Vier vasgetrek tussen Herold en Uniondale"

  1. Deon Everts | 12/06/2020 at 15:47 |

    Absolutely great work from the police officer.

Comments are closed.